Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: ‘Eskom moet oop kaarte speel’

Politieke partye het Eskom Donderdag gelooi oor die jongste vlaag beurtkrag, terwyl adj.pres. David Mabuza namens die regering om verskoning gevra het vir die ongerief wat daardeur veroorsaak word.

Hy is Donderdag in vraetyd in die Nasionale Vergadering uitgevra oor die fase 2-beurtkrag wat Eskom skielik Woensdag landwyd begin toepas het.

“Oor die huidige beurtkrag moet ek namens die regering om verskoning vra aan alle sakeondernemings, studente wat nie hul eksamen kon skryf nie en weens die ongerief wat veroorsaak is. Ons kyk na die probleme en wil Suid-Afrikaners verseker dat daar aandag aan die probleem gegee word en dat ons sal terugkeer na normaliteit.”

Hy het die geïntegreerde hulpbronplan (IRP), die bloudruk vir energiesekerheid wat deur Gwede Mantashe, minister van energie en mynbou, bekend gemaak is, verwelkom.

“Dit is ’n stap in die regte rigting wat die energiemengsel van die land sal toelig. Natuurlik moet ons stelselmatig die ruimte begin skep vir onafhanklike kragverskaffers om die tekort aan te vul.”

Die ANC het in ’n verklaring gesê hy is uiters bekommerd oor die jongste vlaag beurtkrag. Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sê die regering moet sy ingrypings by Eskom vinnig deurvoer. “Dit is onaanvaarbaar dat die massas steeds substandaarddiens van die kragverskaffer kry. Ons glo die regering moet vinnig beweeg om sy ingrypings by Eskom toe te pas.”

Natasha Mazzone, DA-LP, sê die jongste ronde beurtkrag dra by tot die verdieping van die land se ekonomiese krisis. Dit volg ’n maand nadat die kragverskaffer die land verseker het dat daar geen kragonderbrekings sal wees nie.

Dit suggereer dat Eskom ’n tyd lank bewus was van sy tekort aan kapasiteit en dat hy beurtkrag sal moet toepas. Dit bevestig ook dat Eskom die publiek mislei het.

Die DA eis dat Eskom eerlik is oor waarom hy so lank gevat het om bekend te maak dat beurtkrag toegepas gaan word, sê sy in ’n verklaring.

Sy het na Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, verwys wat in mediaonderhoude verskeie uitdagings genoem het.

“Dit suggereer dat Eskom ’n tyd lank bewus was van sy tekort aan kapasiteit en dat hy beurtkrag sal moet toepas. Dit bevestig ook dat Eskom die publiek mislei het. Toe die DA onthul dat Eskom waarskuwings aan munisipaliteite uitgereik het dat kragonderbrekings in September en Oktober op hande is, het Eskom dit ontken. In plaas daarvan om oop kaarte te speel, het Eskom onseremonieel kragonderbrekings toegepas sonder enige voorafwaarskuwing. Dit het die ekonomie en die matriekeksamens negatief geraak,” sê Mazzone.

Die EFF meen beurtkrag is te wyte aan die “onbevoegdheid” van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die ineenstorting van bestuur by Eskom en die gebrek aan strategiese rigting deur sy direksie. Die minister en die onbevoegde direksie beskik volgens die EFF nie oor die “vermoë, die politieke wil en gesofistikeerdheid” om Eskom se uitdagings te verstaan nie.

Die EFF het verskeie voorstelle gemaak oor hoe om Eskom te stabiliseer.

Wynand Boshoff, VF Plus-LP, het die rol wat Mabuza vir onafhanklike kragverskaffers sien, verwelkom. “Dit is ’n belangrike koersverandering van die kant van die regering, wat lank reeds deur die VF Plus bepleit word. Die party sien daarom uit na die bekendstelling van die nuwe geïntegreerde hulpbronplan, om te sien hoe ver die regering bereid is om in dié rigting te beweeg.”

Meer oor:  Beurtkrag  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.