Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Eskom sê die ligte bly dié naweek aan

Die kragnetwerk is “vir eers” stabiel, het Eskom Vrydag verseker.

Die Hendrina-steenkoolkragstasie in Mpumalanga is Suid-Afrika se oudste werkende steenkoolkragstasie. Hy het 10 eenhede wat elkeen 200 megawatt opwek. Foto: Eskom

“Die vooruitsig is nou weer groen,” het Dikatso Mothae, adjunkwoordvoerder van Eskom, by navraag bevestig, met verwysing na die kleurkode-gradering vir ’n beurtkragrisiko. Groen beteken die risiko vir beurtkrag is op sy laagste vlak.

Dit kom nadat noodstelsels Dinsdag ontplooi is om ’n skielike beurtkragrisiko in toom te hou. Mothae sê die nasionale kragnetwerk ervaar nie meer die vlak van druk wat Dinsdag skielike ingryping vereis het nie.

Eskom sê sy noodstelsels is nou nie meer nodig nie vanweë ’n reeks opwekkers wat weer tot sy beskikking is.

Volgens Mothae het kraginvoer vanuit Mosambiek se Cahora Bassa- hidroëlektriese kragaanleg die week weer 400 megawatt (MW) ekstra na Suid-Afrika begin uitvoer. Dis soos herstelwerk aan die transmissienetwerk ná sikloon Idai in April vanjaar gedoen word.

Daarboonop het sowel die Ingula- hidroëlektriese pompskema in die Drakensberge as die Hendrina-steenkoolkragstasie in Mpumalanga vroegtydig hul beplande instandhouding voltooi. Albei aanlegte kon elk ’n eenheid vroegtydig weer aanlyn bring.

Mothae sê daar is ook vier ander steenkoolkragstasie-eenhede wat weens gedwonge afskakeling weer vandeesweek op die been gebring is, maar sy wou nie die verwante kragstasies noem nie.

Dinsdag het Eskom volgehou hoewel sy noodstelsels ontplooi is, het die beskikbaarheid van sy dieselopwekkers asook die gebruik van nuwe eenhede by Kusile en Medupi beteken geen waarskuwing vir beurtkrag was nodig nie.

Albei dié nuwe eenhede – Medupi nr. 2 en Kusile nr. 3 – bly steeds aan, al is hulle nog nie amptelik kommersieel in gebruik geneem is nie.

Medupi nr. 2 is reeds op 12 November 2018 suksesvol getoets met sy volle opwekkingsvermoë

van 796 MW.

Wanneer hy wel kommersieel in werking tree, sal slegs een eenheid, nr. 1, nog uitstaande wees voordat die kragstasie se konstruksie uiteindelik, ná vele vertragings, voltooi is.

Meer oor:  Eskom  |  Steenkoolkragstasies  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.