Fase 2-beurtkrag het Maandag 05:00 hervat en duur onbepaald voort.
Eskom het fase 2-beurtkrag Donderdag ingestel wat tot Sondagnag sou duur.
Sondagmiddag is egter aangekondig dit word Maandag voortgesit.
Kaapstad pas fase 1-beurtkrag toe.
Die voortgesette fase 2-beurtkrag word daaraan toegeskryf dat sekere kragstasies se terugkeer tot die lewering van elektrisiteit vertraag is en die noodkragopwekkingsreserwes moet bestuur word.
Probleme is ondervind om twee kragopwekkingseenhede by die Kusile-kragstasie wat nie verlede week beskikbaar was nie, weer aan te skakel.
Volgens Mantshantsha het Eskom-personeel die naweek 'n kragopwekkingseenheid by die Kriel-, Grootvlei- én Duvha-kragstasies terug in diens gestel.
“Ondanks Eskom se streng maatreëls om die impak van die tweede vlaag van Covid-19-infeksies te bestuur, is daar wel ’n impak op ons bedrywighede, insluitend op dié van ons verskaffers.”
Dit sluit in by die Medupi-kragstasie, waar 48 positiewe gevalle uit ’n poel van 75 kontrakteurs beleef is.
“Dit het ’n negatiewe uitwerking gehad op ons vermoë om die werk te doen wat ons beplan het.”