Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Groenkrag sien rooi oor perke

Frustrasies in die groenkragbedryf kook oor te midde van Eskom se kragkrisis, want rolspelers word nie toegelaat om meer krag te lewer nie.

windkrag
Werkers by ’n windplaas in die Karoo. Die groenkragbedryf voer aan hy kan meer krag aan Eskom lewer om beurtkrag te help verlig as hy toegelaat sou word. Foto: SAWEA/KEITH ARKIN

Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea) vra dat die maksimum uitvoerkapasiteit (MEC) op alle windplase wat in bedryf is, opgehef word sodat hulle die ekstra elektrisiteit teen ’n goedkoop tarief aan Eskom kan verkoop om te help om beurtkrag te verlig.

Sawea verduidelik hul kragkoopkontrakte met Eskom beperk hulle om net die vooraf ooreengekome uitvoerkapasiteit aan Eskom se kragnetwerk te lewer. As die perke opgehef word, kan Eskom die “oortollige” elektrisiteit teen so min as 40c per kWh koop.

Windplase tans in bedryf het op die oomblik sowat 500 MW se ekstra kragopwekkingsvermoë wat onmiddellik beskikbaar is. Korttermynkontrakte kan daarvoor gesluit word om die krag aan die netwerk te lewer, sê Ntombifuthi Ntuli, uitvoerende hoof van Sawea.

Sy stel ook voor die regering laat die windkragbedryf toe om windplase wat tans in aanbou is gouer klaar te maak, sodat hulle krag aan Eskom kan lewer voor die ooreengekome datum vir kommersiële bedryf. Die bedryf is bereid om dié elektrisiteit teen sowat 40% goedkoper as die ooreengekome tarief aan Eskom te verkoop sodat die krag gouer as verwag in die kragnetwerk kan kom teen ’n besparing vir Eskom.

Sawea se derde voorstel is dat die regering die mark oopmaak vir private kragkoopooreenkomste sodat private, onafhanklike kragopwekkers elektrisiteit aan enige gewillige koper kan verkoop. Die windkragbedryf kan elektrisiteit teen 25% goedkoper as Eskom se megaflex-tariewe aan intensiewe kraggebruikers lewer, volgens Sawea. Dit kan help om korttermyn-tekorte op te los en beurtkrag te help vermy.

Ntuli waarsku die huidige kragkrisis raak veral kleinsakeondernemings wat meer as die helfte van die land se arbeidsmag in diens neem. Klein en middelslag-sakeondernemings sukkel om te herstel van lang tye van beurtkrag.

Sy wys daarop dat beurtkrag die land meer as R2 miljard per dag kos, en die publiek is nie bewus daarvan nie dat dié koste nog veel hoër sou wees sonder die elektrisiteit wat windplase genereer.

Sonkrag

Die sonkragbedryf het op sy beurt gevra die regering moet lisensieperke op klein kragprojekte van minder as 10 MW ophef sodat meer sonkragstasies vinniger gebou kan word.

Die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Vereniging (Sapvia) sê die private sektor is goed geplaas om die kragkrisis aan te pak danksy sy vermoë om sy eie kragbehoeftes te identifiseer en daaraan te voldoen, en danksy sy toegang tot finansiering.

Sapvia sê die regering se nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP) identifiseer juis kleinskaalse kragopwekking as ’n manier om die huidige gaping in kragopwekking te oorbrug. Tot 2 000 MW se klein sonkragstasies kan oor die volgende 12 maande gebou word as die bedryf toestemming verleen word, sê Sapvia.

Dit is net die burokrasie rondom lisensiëring en registrasie van dié projekte wat die vinnige uitbreiding daarvan keer.

Sonkraginstallasies van minder as 1 MW het net munisipale goedkeuring of Eskom se tegniese goedkeuring nodig, maar installasies van 1 MW en meer moet deur die uitgerekte en burokratiese Nersa-lisensieproses gaan, wat tussen nege maande en ’n jaar duur.

Volgens Sapvia is daar geen tegniese of kommersiële regverdiging vir die perk van 1 MW nie en behoort dit tot 10 MW gelig te word sodat meer klein projekte vinniger gebou kan word.

Sapvia vra ook munisipale regulasies moet gewysig word om die rompslomp vir kleinskaalse kragprojekte te verminder.

Prof. Anton Eberhard, afgetrede professor in kragbedryfregulering by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool en ’n vorige nasionale beplanningskommissaris, sê op Twitter hy is al so moeg vir mense wat sê hernieubare energie is onbetroubaar. “Die laaste keer wat ek gekyk het, het die son vanoggend opgekom, maar ’n derde van Eskom se steenkoolkragstasies werk nie. Hernieubare energie is wisselvallig, en kan aangevul word deur buigsame kragbronne om betroubare krag teen die laagste koste te voorsien.

“Die son skyn dalk nie nou in Gauteng nie, maar wel in die Noord-Kaap en elders, en die wind waai. Elke kilowatt-uur van hernieubare energie tel en kan beurtkrag help verminder.”

Dikgatso Mothae, woordvoerder van Eskom, het navrae oor die ophef van die perk op windkragverkope na die departement van minerale hulpbronne en energie verwys, want die kragkoopkontrakte is deur die eertydse departement van energie opgestel wat nou deel is van die saamgevoegde departement. Die departement het nog nie op vorige navrae gereageer nie.

Meer oor:  Sapvia  |  Eskom  |  Beurtkrag  |  Sonkrag  |  Windkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.