Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: ‘Hou op geld in Eskom pomp – dit help nie!’

Hou op om geld in die wankelende Eskom te pomp. Dit help nie!

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede. Foto: Argief

Dit was die strekking van ’n verklaring wat Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Woensdag uitgereik het toe beurtkrag die land weer uit die bloute getref het.

“Die terugkeer van beurtkrag, ondanks die versekering dat dit nie weer sal gebeur nie, kom te midde van die nasionale fiskus wat miljarde rande betaal om Eskom te red,” sê hy.

En ten einde dié geld beskikbaar te stel, “moes die provinsiale regering deur die pynlike proses gaan om besteding aan noodsaaklike dienste soos ons skole, hospitale en klinieke te besnoei”.

“En waarvoor? Meer beurtkrag.”

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies, sê ook in ’n verklaring die Wes-Kaapse ekonomie verloor na raming R75 miljoen per dag per beurtkragfase wat ingestel word.

Hoewel die Wes-Kaapse regering ’n aantal stappe gedoen het om die impak van beurtkrag op die provinsie se ekonomie te versag, bly die koste daarvan hoog, veral vir vervaardigers, sê Maynier.

Die Kaapse metroraad het Woensdag gesê hoewel fase 2-beurtkrag landwyd geld, sal Kaapstad net fase 1 ondervind.

Lees ook: Beurtkrag: Kaapstad nie so swaar getref

Maynier sê die Wes-Kaapse regering het stappe gedoen om te verseker dat elektrisiteitsvoorsiening in die provinsie stabiel is. Stelsels is met volhoubare en lae-koolstofbronne gediversifiseer. Dit sluit in die installering van kragmeters wat beter verbruiksbestuur in provinsiale geboue bewerkstellig. Dit het gehelp dat dié geboue se kragverbruik met 13% gedaal het.

Inwoners mag in 23 van die 25 munisipaliteite in die provinsie hul fotovoltaïese stelsels by die elektrisiteitsnetwerk aansluit. Hulle word vergoed vir die surplus-krag wat hulle in die munisipale elektrisiteitsnetwerk invoer.

Die Kaapse metro is tans gewikkel in ’n hofgeding met die departement van energie. Die metro eis dat hy toegelaat moet word om krag regstreeks van onafhanklike kragvoorsieners aan te koop.

Winde sê dit is tyd dat die nasionale regering ophou om van ramp tot ramp te struikel deur Eskom se mislukkings met ’n finansiële reddingsboei moontlik te maak.

“Die wêreld het die behoefte aan skoon, hernubare energie erken, en enige beperkings wat nou op die gebruik van alternatiewe energiebronne geplaas word, sal in komende jare ’n ernstige negatiewe uitwerking hê,” sê Winde.

Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier van die DA, sê in ’n verklaring Eskom se monopolie oor krag “is ’n groot deel van die probleem omdat hy nie mededingers het wat hom aanspreeklik kan hou nie”.

“Eskom het (Woensdag) met geen vooraf kennisgewing die krag afgesny en duisende studente kon nie hul finale eksamens aflê nie. Dit verhoed dat klein ondernemings handel kan dryf en gesinne moet noodgedwonge beplan vir die onvermydelike oomblik wanneer die ligte afgaan,” sê Madikizela.

Die Kaapse metroraad sê in ’n verklaring hy kon Woensdag danksy die Steenbras-hidroëlektriese-skema bykomende opwekkingsvermoë tot die netwerk voeg. Beplande instandhouding aan die skema begin egter volgende week en sal na verwagting tot Mei 2020 duur.

Die onderhoudswerk is juis vir dié tydperk beplan omdat die vraag na krag dan laer is en die onderhoudswerk dus ’n minimale impak op die metro se elektrisiteitskliënte sou hê,” sê Phindile Maxiti, burgemeesterskomiteelid vir energie en klimaatsverandering.

“Maar as beurtkrag in die komende weke en maande voortduur, sal die stad ongelukkig nie in staat wees om sy kliënte met ’n bykomende opwekkingsvermoë te help nie.”

Agtergrond oor hofsaak

Die Kaapse metroraad vra die hof om die minister van energie en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te dwing om munisipaliteite landwyd toe te laat om krag by onafhanklike kragprodusente te koop.

Dit is omdat Eskom nie die vermoë het om voorsiening te maak vir betroubare en skoner energie aan Kaapstad nie, sê Maxiti.

Volgens hom sal die saak na verwagting in die eerste helfte van volgende jaar aangehoor word.

“Toegang tot elektrisiteit is ’n reg wat in die Grondwet verskans is, en die metro is van plan om sy kliënte die opsie te bied om skoner energie te gebruik terwyl die stygende elektrisiteitskostes sowel as die impak van klimaatskrisis bestry word,” sê Maxiti.

Die metro meen dit is van die uiterste belang dat die nasionale regering die sektor vir kragopwekking oopstel.

Meer oor:  Eskom  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Provinsies  |  Beurtkrag  |  Hernubare Energie  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.