Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag kan ook waterkrisis bring

’n Waterkrisis kan op die hakke van beurtkrag volg indien Eskom nie die landwye kragkrisis spoedig oplos nie.

Mense skarrel tans met navrae oor huishoudelike sonkragstelsels, en die sonkragbedryf vra dat die regering te midde van die krisis die rompslomp rondom die goedkeuring van kleiner sonkragstasies uitskakel.

Die Wes-Kaapse regering en die Kaapstad-metroraad het Dinsdag hul kommer uitgespreek oor die voortslepende beurtkrag wat veroorsaak dat water- en rioolpompe vir lang tydperke af is.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het op ’n nuuskonferensie gesê as daar nie na die pompe gekyk word nie, kan die newe-effekte van ’n watertekort en rioolstelsels wat oorspoel veel erger skade berokken.

Die Kaapstad-metroraad het ook Dinsdag gewaarsku dat inwoners van Kaapstad sonder water kan sit weens waterpompe wat nie kan werk wanneer beurtkrag toegepas word nie.

Dit volg nadat volskaalse paniek Suid-Afrikaners Maandagmiddag beetgepak het toe Eskom skielik aankondig dat hy weens ’n tegniese fout by die Medupi-kragstasie by Lephalale in Limpopo die beurtkrag van fase 4 tot fase 6 opskuif.

Ondertussen het pres. Cyril Ramaphosa sy amptelike besoek aan Egipte kortgeknip en sal hy vandag met Eskom se topbestuur vergader oor die elektrisiteitskrisis.

Die regering het Dinsdagmiddag laat aangekondig dat ’n tender uitgereik gaan word vir inligting oor dringende kragopwekking wat binne die volgende drie tot 12 maande krag kan lewer.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het dié tender Dinsdag aangekondig en gesê hy gaan ook vra dat onafhanklike kragopwekkers wie se projekte goedgekeur is in die vierde ronde van die regering se groenkragprogram gouer aan die gang kom.

Hy wil ook versoek dat Suid-Afrikaners meer van vloeibare petroleumgas (LPG) gebruik maak as alternatiewe kragbron.

Voor Mantashe se aankondiging Dinsdag het die groenkragbedryf juis gevra dat die regering hom toelaat om meer elektrisiteit aan Eskom te lewer om beurtkrag te help verlig.

Die windkragbedryf sê die hoeveelheid krag wat hy aan Eskom kan lewer, word tans beperk. Daar is sowat 500 MW se ekstra krag wat hy bereid is om teen laer pryse aan Eskom te verkoop.

Die sonkragbedryf vra op sy beurt dat die rompslomp en burokrasie rondom die goedkeuring van sonkragprojekte verminder word, en sê hy kan binne 12 maande 2 000 MW se ekstra sonkragaanlegte bou as die voorskrifte verslap sou word.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, het ook op ’n nuuskonferensie by Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park, gevra dat die regering onafhanklike kragprodusente toelaat om meer krag op te wek.

Pres. Cyril Ramaphosa gister.Foto: PRESIDENSIE/TWITTER

Daar is minstens 17 kragprojekte wat net op Mantashe se handtekening wag, het Steenhuisen gesê.

Hy het gesê munisipaliteite moet toegelaat word om Eskom te omseil en krag regstreeks van onafhanklike kragprodusente aan te koop.

Daar was Dinsdag te midde van die voortslepende beurtkrag darem ’n kersliggie aan die einde van die tonnel – daar sál krag wees om die Kersliggies vanjaar te laat brand.

Eskom verwag ook dat beurtkrag volgende week vir eers verby gaan wees vir die res van Desember, want die meeste fabrieke en swaar nywerhede sal dan vir die Kersvakansie sluit.

Die gebruiklike bouersvakansie vir die konstruksiebedryf breek ook Vrydag aan.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het Dinsdag by monde van sy woordvoerder, Dikatso Mothae, gesê daar behoort nie volgende week beurtkrag te wees nie, en die kanse is ook baie skraal dat hoegenaamd by fase 8- beurtkrag uitgekom sal word.

Andre Botha, senior handelaar by die valutamakelaar TreasuryOne, het intussen gewaarsku dat Eskom aangedui het dat beurtkrag nog twee jaar lank ’n alledaagse verskynsel in Suid-Afrika kan wees.

– Verslagspan: Francois Williams, Elvira Wood, Sarel van der Walt en Philda Essop

Meer oor:  Beurtkrag  |  Water  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.