Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Kersfees gaan ook ‘fees van kerse’ wees
Dit gaan waarskynlik beter wees om dié Kersfees in kerse, eerder as in elektriese liggies, te belê.Foto: Unspalsh

Dié Kersfees gaan kerse waarskynlik eerder in Suid-Afrikaanse huise flikker as gekleurde liggies.

Dis dalk ook ’n goeie plan om ’n vleisbraai buite in die sonlig te beplan eerder as ’n aansitete van skaapboud en aartappels waarvoor jy ure lank ’n oond nodig het.

Dit is alles te danke aan probleme by Eskom, wat sedert 1 Desember reeds elke dag vir 13 uur op ’n slag beurtkrag instel.

Hoewel Eskom voorheen gewaarsku het dat daar ’n groot kans vir beurtkrag vir die res van 2018 is weens steenkooltekorte by van sy kragsentrales, blyk die groot probleem nou eerder onbeplande instandhouding te wees.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het reeds in November op die kragverskaffer se mediasessie oor die stand van die kragnetwerk gesê onbeplande instandhouding is ’n enorme probleem. “Die status van die stelsel reflekteer die besluite wat by Eskom geneem is. Ons onbeplande instandhouding is heeltemal te hoog,” het hy gesê. Hadebe is in Mei as Eskom se uitvoerende hoof aangestel.

Die kragverskaffer het toe wel ’n negepuntplan met mediumtermynstappe bekend gestel “om te verseker die ligte bly aan”.

Hadebe sê die begrote bedrag vir instandhouding by kragsentrales is jare lank nie aangepas nie. Die kragvoorsiener dra nou die gevolge daarvan.

Eskom beplan 59 kragonderbrekings by verskeie van sy kragsentrales tot in Desember 2019 om instandhoudingswerk te doen. Dié werk gaan hom R11,5 miljard uit die sak jaag.

Naweke

Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, het onlangs op Twitter beklemtoon die huidige beurtkrag is nie weens steenkooltekorte nie, maar weens ’n lae dieselvoorraad, lae damvlakke by sy pompopgaarskemas en weens eenhede by steenkoolkragsentrales wat breek.

Hy het toe gewaarsku Eskom probeer om veral oor naweke sy dieselvoorraad aan te vul en damvlakke by pompopgaarskemas te herstel. Dit beteken beurtkrag kan oor naweke langer duur om die risiko van ernstiger fases van beurtkrag in die week te verlaag.

Eskom sê dit gaan hom tussen R750 miljoen en R1 miljard tussen nou en Maart 2019 kos om diesel te koop. Dit is as dit nie skielik baie begin reën nie. Indien wel, sal hy selfs méér op brandstof vir dieselopwekkers moet bestee omdat steenkool klam sal word en nie so doeltreffend sal verbrand nie.

Steenkoolvoorraad

Die kragverskaffer waarsku lank reeds dat ’n tekort aan steenkool by van sy kragsentrales die risiko van beurtkrag verhoog.

Hadebe het ook op die oorsig van die stand van die kragnetwerk gesê tien van Eskom se steenkoolkragsentrales het steenkoolvoorraad van minder as 20 dae, met die voorraad by sommige stasies so min as vyf dae.

Eskom se eie interne vereiste is om voorraad vir minstens 20 dae te hê.

Hadebe het egter laat in November in die parlement gesê dit blyk of dié probleem dalk vinnig iets van die verlede sal wees.

Hy het aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê verskeie nuwe kontrakte is onderteken om steenkool te kry.

Dit kom nadat hy glo gesukkel het met steenkool wat hy by die Guptas se Tegeta-myne moes kry.

Eskom gee al geruime tyd dié myne die skuld vir sy steenkooltekort.

Hy beplan om miljoene tonne steenkool wat by sy Medupi-kragsentrale in Limpopo opgegaar is, per spoor na Mpumalanga te vervoer.

Ander probleme

Beurtkrag is ook nie die enigste rede hoekom Suid-Afrikaners soms nie krag het nie.

Op 2 Desember het ’n subkontrakteur ’n kragkabel in Doornfontein, Johannesburg, beskadig wat ’n kragonderbreking in dié gebied veroorsaak het.

Kragpale op die netwerk tussen Suid-Afrika en Mosambiek wat die eerste naweek van Desember omgeval het, het ook tot onderbrekings bygedra.

Suid-Afrika voer gewoonlik 1 500 MW krag van die Cahora Bassa-skema in die buurland in. Kraginvoer het tot net 400 MW gedaal.

Beurtkragskedules

Intussen kla tientalle lesers dat beurtkrag nie soos per skedule ingestel word nie.

Eskom self het die afgelope naweek ’n probleem op sy webwerf gehad en mense wat hul krag regstreeks van Eskom koop, kon nie die skedules naslaan nie. Die webwerf werk nou weer.

Eskom waarsku ook in verskeie verklarings dat mense bewus moet wees dat dit langer kan duur om kragtoevoer na huise en ondernemings te herstel nadat hy weer die krag aangeskakel het. Dit is omdat dit dikwels via munisipaliteite na kliënte gaan. Dit hang dus ook af van wanneer munisipaliteite kragtoevoer herstel.

  • Mense wat hul krag direk by Eskom kry, kan die beurtkragskedule op Eskom se webtuiste kry of 0860 037 566 skakel vir meer inligting.
  • Mense wat hul krag by hul munisipaliteit kry, moet die betrokke munisipaliteit se webtuiste vir skedules besoek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.