Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag, maar Nersa sleep voete

Terwyl Suid-Afrika ly weens beurtkrag, sleep die energiereguleerder Nersa sy voete om dit moontlik te maak om noodkrag aan te koop.

Gwede Mantashe, minister van energie.

Dié aantyging kom van die voorste energiekenners in die land.

Nersa het amper ’n maand lank gewag voordat hy dié week ’n openbaredeelnameproses begin het oor ministeriële aanwysings wat kan help om kragvoorsiening te stabiliseer.

Gwede Mantashe, minister van energie, het dié voorgestelde aanwysing al op 21 Februarie aan Nersa oorhandig.

Dit maak voorsiening vir die aankoop van 2 000 MW se noodkrag om die huidige tekort dringend aan te vul. Dit kan van verskillende tegnologieë kom en moet van 2019-2022 in bedryf gestel word.

Daarbenewens moet Nersa besin oor nog ’n voorgestelde aanwysing vir 6 800 MW se wind- en fotovol­taïese sonkrag wat van 2022 tot 2024 in bedryf gestel moet word.

Prof. Anton Eberhard, energiekenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool en voormalige voorsitter van pres. Cyril Ramaphosa se Eskom-taakspan, sê nie net het Nersa ’n maand gesloer voordat hy dié week twee besprekingsdokumente vir openbare kommentaar gepubliseer het nie, die vrae waarop hy antwoorde wil hê, is boonop onsinnig.

Chris Yelland, ’n energiekenner en konsultant vir Intellidex, ondersteun Eberhard se uitsprake.

Eberhard het op Twitter gesê: “Die kommerwekkendste is die totale gebrek aan dringendheid by Nersa. Hulle het ’n maand lank op die ministeriële aanbevelings gesit. Nou het hulle ’n besprekingsdokument uitgereik wat onnodig ingewikkeld is. Dit sal maande duur voordat elektrisiteit werklik aangekoop word.”

Een van die vrae wat Nersa opper, is of kragopwekking uit steenkool deel moet vorm van die aankope in dié ronde. Eberhard sê dit is onsinnig omdat geen steenkoolkragstasie so vinnig opgerig kan word nie.

Ten einde die proses te versnel gaan Nersa nie die normale roete van openbare sittings volg vir die wysiging oor die 2 000 MW se noodkrag nie.

Die publiek kan tot 14 April geskrewe voorleggings indien. Die verwerking van die kommentaar en finalisering van die proses sal volgens Nersa nog 25 werkdae neem, wat die totale “verkorte” proses op sowat drie maande te staan bring.

Oor die 6 800 MW-voorstel volg Nersa sy normale proses, wat sowat ses maande duur. Geskrewe kommentaar moet teen 7 Mei in wees, waarna Nersa ’n datum sal bekend maak vir openbare sittings. Dié proses sal waarskynlik eers in Augustus afgehandel wees.

Volgens Megan Adderley en Melissa Hendrickse, spesialiste in energieregulering van die regsfirma Webber Wentzel, is die wetsvoorskrifte dat belanghebbendes genoegsame kennis moet kry en ’n redelike geleentheid moet hê om kommentaar te lewer. In ’n noodsituasie soos die huidige beurtkragkrisis kan dit verslap word of selfs heeltemal mee weggedoen word, sê hulle.

’n Uitgerekte openbaredeelnameproses sal die ware doel van die twee aanwysings – om dringend sekerheid te bring oor kragverskaffing – verydel. Boonop kan die regering sy aankoopproses versnel deur noodmaatreëls te gebruik.

“Dit is noodsaaklik dat Nersa die openbaredeelnameproses versnel om dringend te handel met die huidige kragtekort en alomteenwoordige risiko van beurtkrag en die wetgewing oor openbare deelname maak dit vir hulle moontlik.”

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Beurtkrag  |  Boere  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Ipp  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Landbou  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.