Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Medupi se vervoerband wéér die sondebok
Die Medupi-kragstasie in aanbou.Foto: Getty Images

Dit lyk asof Eskom maar net nie die Medupi-kragstasie se vervoerband aan die gang kan hou nie.

Eskom het Maandag in ’n verklaring gesê een van die redes hoekom hy vir die eerste keer tot nog toe fase 6-beurtkrag moes instel was omdat “die kragtoevoer na vervoerbande wat steenkool na die silo’s by die Medupi-kragstasie voer, gebreek het. Dit het verder bygedra tot die tekort aan kapasiteit”.

Probleme met die vervoerband by Medupi is ook in Oktober die skuld gegee toe Eskom toe vir die eerste keer in maande weer beurtkrag ingestel het.

Op Saterdag 12 Oktober het ’n 700 m lange deel van ’n 7 km lange steenkoolvervoerband daartoe gelei dat Medupi se enorme ketels nie met genoeg steenkool gevoer kon word nie.

Tóé is stootskrapers ingespan om die steenkool na die ketels te vervoer.

Johan Dempers, ’n projekbestuurder by Eskom, is oor dié probleme afgedank.

Dempers was verantwoordelik daarvoor om die vervoerband te laat herstel.

As deel van die noodmaatreëls wat ingestel is terwyl die band herstel moes word, moes 1 500 ton steenkool per uur per trok na die kragstasie aangery word.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, het Eskom aangevoer Dempers het versuim om te verseker dat soveel steenkool per uur afgelewer word en dat hy nagelaat het om die saak by senior bestuurslede aan te meld.

Dempers is sedertdien weer in sy pos aangestel nadat die Arbeidshof beslis het sy afdanking was onbillik, hoewel Eskom sê hy oorweeg tugstappe teen hom.

LEES OOK: Eskom: Dempers kry werk terug; tugstappe kom

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, het voorheen gesê daar is baie groter fout by Medupi.

Volgens hom word Medupi reeds gekniehalter deurdat die “steenkoolbergingsgebied heeltemal gesystap is en dit ’n enorme afhanklikheid van die enkele vervoerband veroorsaak het”.

Dié vervoerband loop vanaf die Grootegeluk-myn oor ’n afstand van sowat 7 km verby bergingsgebiede tot in Medupi.

Volgens Yelland is die enorme stapelaar-herwinningslaaiers stukkend wat veronderstel is om steenkool ook vanaf die sekondêre bergingsgebied tot op die vervoerband, baie nader aan Medupi, te skep. Dit beteken steenkool kan slegs vanaf die myn self kom, en dus teen ’n versnelde pas by die myn op die vervoerband moet kom om aan Medupi se behoefte van 4 000 ton steenkool per uur te voldoen.

Eskom het dié beweringe heftig ontken.

Dikatso Mothae, woordvoerder van Eskom, het toe gesê werk vorder goed om Medupi se probleme binnekort op te los.

Die uiters belangrike steenkool-vervoerband sou in Oktober ook “voor die einde van die week” herstel wees, en dan sou “Medupi weer sy volle bydrae tot die verskaffing van krag” kon lewer.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.