Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Nie eens Eskom weet wat gebeur het

’n Donker week lê vir Suid-Afrika voor, sê Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, want die probleme wat tot fase 2-beurtkrag gelei het, is nié gering nie.

Die Lethabo-steenkoolkragsentrale, een van drie steenkoolkragsentrales by Eskom wat tans kritieke ketelbuislekkasies ervaar wat tot beurtkrag bygedra het. Foto: Wikipedia

Eskom het Woensdag fase 2-beurtkrag van 09:00 tot 23:00 begin toepas.

Die beleërde kragreus verduidelik dat ’n reeks probleme reeds Saterdag begin ontvou het wat sy noodstelsels “tot op die rand gestoot het,” sê Oberholzer.

“Ek verwag beurtkrag sal nog om en by ’n week duur.”

Die koeël was finaal deur die kerk toe ’n steenkool-vervoerband Saterdagoggend onverwags “kritieke strukturele skade” opgedoen het.

“Ons weet net nie wat gebeur het nie,” sê Oberholzer in ’n onderhoud met Netwerk24.

Hy verduidelik dat ’n taakspan op die toneel is om ondersoek in te stel, tesame met Bheki Nxumalo, die betreklik nuwe hoof van opwekking.

Die vervoerband se skade het die Medupi-mega-steenkoolkragsentrale se opwekkingskapasiteit bykans “gehalveer,” het die nutsmaatskappy Woensdag in ’n verklaring gesê.

Soos ons praat, is daar meer as 10 500 MW se onbeplande onderbrekings.
Jan Oberholzer

Al ses van Medupi se eenhede het vir die eerste keer in Augustus begin krag produseer toe die laaste eenheid met die nasionale kragnetwerk gesinchroniseer is. Medupi is veronderstel om 4 800 megawatt (MW) te produseer.

Fase 2-beurtkrag vereis dat 2 000 MW se vraag na krag uitgesny word om spanning op die kragnetwerk te verlaag en sodoende ’n “totale ineenstorting” te vermy, sê Eskom.

Die ‘somerplan’

Eskom se somerplan is in September aangekondig. Dit was veronderstel om te bou op die sukses van die winterplan, wat verseker het dat Suid-Afrika nié beurtkrag ervaar het in die wintermaande nie. Dít nadat die ekonomie in Februarie en Maart onder tot fase 4-beurtkrag gekwyn het.

Maar Oberholzer sê die somerplan, wat werk op die aanname dat onbeplande onderbrekings by kragsentrales tot onder 8 500 MW beperk word, nou hersien moet word.

“Soos ons praat, is daar meer as 10 500 MW se onbeplande onderbrekings,” sê Oberholzer.

Die vervoerband, wat ongeveer 2 400 MW van lyn af gehaal het, is “kilometers lank en enorm” sê Oberholzer. Sowat 500 m van die vervoerband is ernstig beskadig en sal eers teen einde volgende week herstel kan word. Eskom het blykbaar 800 m se spaar-vervoerband, maar omdat die skade struktureel en baie ernstig is, kan die vervoerband nie bloot vervang word nie.

Dis ook nie die einde van Eskom se probleme nie.

Lekkasies

Eskom se Majuba-, Kendal- én Lethabo-steenkoolkragsentrale het Saterdag groot lekkasies in van hul ketelbuise opgedoen. Die herstelwerk verg dat die hele eenheid afgesit word en personeel dan binne-in kruip om elke stuk pyp te ondersoek nadat die enorme ketel eers afgekoel het.

Ses steenkooleenhede is geraak deur die lekkasies, sê Oberholzer.

Dit het gelei tot tussen 3 400 MW en 3 500 MW se kapasiteit wat onbeskikbaar geword het.

Hy verduidelik die herstelwerk sal teen die einde van die week klaar wees.

Drie ander eenhede ervaar tans ook lekkasies, maar word ten spyte daarvan nog bedryf om erger beurtkrag te help vermy. Dié drie eenhede sal eers aan die einde van die week hul kans vir herstelwerk kry.

Noodstelsels op hul knieë

Beurtkrag is in werking gestel omdat Eskom se noodstelsels sedert Saterdag so hard moes werk dat dié kapasiteit nou te naby aan gedaan is, en vir eers gestaak moes word.

“Ons moet verseker dat ons noodstelsels genoeg kapasiteit het vir as iets groters fout gaan,” sê Oberholzer.

Die dieselopwekkers verbrand sowat R750 000 se diesel per uur. Hulle is nie veronderstel om gebruik te word vir basislading nie, net vir korttermyn-aanvullings.
Jan Oberholzer

Dié stelsels behels Eskom se twee groot dieselopwekkers en sy pompopgaarskemas.

Die dieselopwekkers loop al voluit sedert Saterdag, maar nou moet hul dieselreserwes eers weer opgebou word.

“Hulle verbrand sowat R750 000 se diesel per uur. Hulle is nie veronderstel om gebruik te word vir basislading nie, net vir korttermyn-aanvullings,” sê Oberholzer.

Nog diesel is op pad vanaf PetroSA.

Die pompopgaarskemas moet ook nou eers water verskuif sodat krag weer opgewek kan word.

Gevra oor Eskom se prioriteite in terme van beurtkrag vermy of risiko tot die nasionale kragnetwerk beperk, sê Oberholzer albei moet gelyk gebalanseer word.

“Maar dit is uiters belangrik dat ons ’n veiligheidsmarge onderhou wat ’n noodgeval met die nasionale kragnetwerk kan help afweer.

“Dit is dan eintlik nommer een op die oomblik.”

Prioriteite

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, sê egter Eskom se prioriteite is eintlik heel anders.

“Hy gee nie om oor sy kliënte nie,” sê hy in ’n onderhoud met Netwerk24. “Hy sê ons eers van probleme lank nadat hy al daarvan geweet het!

“Daar is ’n enorme probleem met deursigtigheid. Hy het al Saterdag geweet van dié probleme, hoekom hoor ons nou eers?”

Die probleem met Eskom is dat hy die verbruiker heel laaste plaas.
Chris Yelland

Yelland verwys ook na hoe Eskom sy en ander kenners se pogings om voorspellings te maak en neigings in Eskom se opwekkingstatistieke te identifiseer, kniehalter.

“Net die afgelope paar maande gee hulle vir ons syfers oor die opwekkingskapasiteit tesame met hoe baie verlore is aan onbeplande verliese,” verduidelik hy.

Die data word weekliks uitgereik, met ’n agterstand van twee weke.

“Oorsee weet hulle hoe belangrik dit is om regstreeks die stelsel dop te hou en dié data word uurliks uitgereik, sonder enige agterstand.”

Yelland sê niemand, en dalk nie eens Eskom self nie, kan sien of krisisse soos Woensdag s’n op pad is nie – die data is net te onvolledig en agter.

Hy is tans besig met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) om geskiedkundige statistieke vir die afgelope drie jaar oor veral onbeplande verliese te kry. Hy sê daarsonder kan ’n mens glad nie die huidige situasie evalueer nie, en Eskom weier bloot al ’n jaar lank.

“Die probleem met Eskom is dat hy die verbruiker heel laaste plaas.”

Natasha Mazzone, DA-LP, het Woensdagoggend onder meer aangevoer dat Eskom beurtkrag as ’n politieke speletjie inspan om sy eie agenda te bevorder.

Hierop antwoord Oberholzer slegs dat die probleme by Eskom nie ’n geheim is nie.

“Dit is ’n moeilike paar dae wat ons agter die rug het, en ek belowe jou ons voel die druk en die verantwoordelikheid wanneer ons nuus soos dié moet deel.

“Ons by Eskom weet die waarheid. Dis nie ’n komplot nie.”

Maar die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) is steeds keelvol.

“Ons kan nie die voortdurende oorbesteding by nuwe kragsentrales aanvaar terwyl Eskom nie eens kan verduidelik hoekom hy nie die stasies aan die gang kan hou nie,” het Heinrich Volmink, Outa se uitvoerende direkteur vir beleid, Woensdag in ’n verklaring gesê.

  • Mense wat hul elektrisiteit regstreeks by Eskom kry, kan die beurtkragskedule op Eskom se webtuiste of meer inligting by 0860 037 566 kry.
  • Mense wat hul elektrisiteit by hul munisipaliteit kry, moet die betrokke munisipaliteit se webtuiste vir skedules besoek.
Meer oor:  Eskom  |  Chris Yelland  |  Jan Oberholzer  |  Diesel  |  Beurtkrag  |  Medupi  |  Kragkrisis  |  Steenkoolkragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.