Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag só uitgeskakel
David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling, die afgelope week op die Paardekraal-Oos-windplaas. Die windplaas staan sowat twee uur se ry van Kaapstad in die Witzenberg-munisipaliteit. Die 48 turbines is reeds almal aan Eskom se kragnetwerk verbind en sal altesame 110 MW krag lewer wanneer dit volledig in bedryf is.

As sakelui hul kraggebruik beter bestuur, kan hulle baie geld spaar en boonop beurtkrag vir die hele land uitskakel, sê Tygue Theron, spanleier by Energy Partners Intelligence.

Piet van Staden, voormalige voorsitter van die groep vir intensiewe energiegebruikers, stem daarmee saam, maar sê dié groep se lede, wat myne en smelters insluit, het waarskynlik al gedoen wat hulle kon om hul kraggebruik doeltreffender te maak.

Op die oomblik is baie lede besig met voorbereiding om hul afhanklikheid van Eskom te verminder.

Theron sê weens skerp stygings in kragtariewe word alternatiewe kragverskaffing al hoe haalbaarder, maar selfs voordat ondernemings dít oorweeg kan hulle baie doen om hul kragrande te rek.

Energy Partners Intelligence monitor sy kliënte se kraggebruik op meer as 600 persele landwyd, met sowat 4 000 elektrisiteitsmeters en ’n gesamentlike kragrekening van meer as R2 miljard per jaar.

Volgens Theron is die eerste ding waarna hy kyk die kliënt se rekening. Vir tot 30% van ondernemings word die verkeerde tariewe gehef en dáár is besparings van gemiddeld 10% tot 15% te maak, sê hy.

“Dit raak al hoe moeiliker om met wanfunksionerende munisipaliteite te werk en mense vermy dit. Munisipaliteite kan tot drie jaar se koste verhaal as hulle rekeninge gelewer het wat te laag was. Ondernemings moet hulself daarteen beskerm.”

Hy sê ondernemings kan nie op munisipale meters staatmaak nie. Hulle moet hul eie meters daarnaas installeer sodat hulle kan kontroleer wat hulle verskuldig is.

Selfs gewapen met dié data is dit geen maklike taak om die regte persoon in die administrasie te identifiseer en sover te kry om die rekening reg te stel nie.

Sonkrag klink na ’n maklike oplossing vir kleinhandelaars wat meestal werk wanneer die son skyn, maar in die meeste gevalle huur hulle persele en hulle mag dus nie panele op die dak installeer soos hulle lus het nie. Energy Partners vervul egter dié rol en verkoop die krag dan aan die winkeliers.

Sakelui kan steeds baie spaar deur hul gedrag te verander, sê Theron.

As jy weet jy pak net vroegoggend rakke voordat die winkel oopmaak, kan jy die beligting met die helfte verminder. Saans, wanneer die deure toe is en daar skoongemaak word, is net ’n derde van die beligting nodig.

In die algemeen kan kleinhandelaars hul kragverbruik met tot 30% verminder deur op te hou mors en hul gebruik aktief te bestuur, sê Theron. Een koshandelaar waarmee hy gewerk het, het oor die afgelope tien jaar so R2 miljard bespaar.

In die algemeen kan kleinhandelaars hul kragverbruik met tot 30% verminder deur op te hou mors en hul gebruik aktief te bestuur.

Die gesondheidsektor is ’n perd van ’n ander kleur, want daar is geen ruimte vir foute nie en ’n magdom reëls en regulasies waaraan voldoen moet word. Nietemin het ’n hospitaalgroep met 55 persele die afgelope sewe jaar R220 miljoen bespaar deur slim te werk.

Hy meen dis nog te vroeg om op groot skaal voordeel te trek uit batterye, maar in die nabye toekoms sal dit haalbaar raak om krag in stil tye van die dag te stoor vir gebruik in spitstye, wanneer krag duurder is.

Teen 2023 behoort ’n stel batterye se koste binne vyf jaar verhaal te kan word met die besparings wat dit teweegbring.

Theron reken met behoorlike kragbestuur kan die land se kraggebruik met tot 10% verminder word, wat beteken dat beurtkrag grootliks uitgeskakel word.

Van Staden stem daarmee saam. Hy sê Eskom het vroeër heelwat navorsing gedoen wat dít bevestig het, maar die projek het teen die agtergrond van staatskaping skipbreuk gely. Die meeste van die intensiewe gebruikers installeer reeds sonkragstelsels van tot 60 MW. Sasol, wat sy eie kragstasie met ’n opwekkingsvermoë van 1 040 MW het, wag tenders in vir nog 600 MW se son- en windkrag.

Vrydag het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, oplaas die weg gebaan vir die tenderproses vir die opwekking van ’n bykomende 11 813 MW.

Meer as 1 000 belanghebbendes het Vrydag ’n aanlyn konferensie bygewoon oor die regering se versoek vir voorstelle vir noodkragopwekking wat teen 27 November ingedien moet wees. Dié projekte moet teen Junie 2022 begin krag lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.