Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag ‘volgende week verby,’ verwag Eskom
Mense skarrel tans met navrae oor huishoudelike sonkragstelsels, en die sonkragbedryf vra dat die regering te midde van die krisis die rompslomp rondom die goedkeuring van kleiner sonkragstasies uitskakel.

Daar sal krag wees om die Kersliggies vanjaar te laat brand.

Eskom verwag dat beurtkrag volgende week vir eers verby gaan wees vir die res van Desember want die meeste fabrieke en swaar nywerhede sal dan vir die Kersvakansie sluit.

Die gebruiklike bouersvakansie vir die konstruksiebedryf breek ook Vrydag aan.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het Dinsdag by monde van sy woordvoerder, Dikatso Mothae, gesê daar behoort nie volgende week beurtkrag te wees nie, en die kanse is ook baie skraal dat hoegenaamd by fase-8-beurtkrag uitgekom sal word.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het intussen aangekondig dat hy ’n tender gaan uitreik vir inligting oor dringende kragopwekkingsopsies wat binne die volgende drie tot 12 maande krag kan lewer.

Hy gaan ook vra dat onafhanklike kragopwekkers wie se projekte goedgekeur is in die vierde ronde van die regering se groenkragprogram gouer aan die gang kom, en dat Suid-Afrikaners meer van vloeibare petroleumgas (LPG) gebruik maak as alternatiewe kragbron.

Dit kom nadat volskaalse paniek Suid-Afrikaners sedert Maandagmiddag beetgepak het toe Eskom skielik aankondig het dat hy weens ’n tegniese fout in die Medupi-kragstasie by Lephalale in Limpopo die beurtkrag van fase-4 tot fase-6 opskuif.

Maar die rand het Dinsdag tot R14,80 teen die dollar verswak van die vorige dag se R14,67, en ekonome waarsku dat Suid-Afrika 2019 in ’n resessie kan eindig as beurtkrag volhou om ekonomiese bedrywighede te ontwrig. Dit kan die kredietgraderingsagentskap Moody’s noop om Suid-Afrika tot rommelstatus af te gradeer, wat tot hoër uitleenkoste sal lei en alle verbruikers negatief sal raak.

Hoewel fabrieke gaan sluit, kan die toerismebedryf steeds erg negatief geraak word as beurtkrag sou voortduur, met die Tafelberg-sweefspoor wat juis Dinsdag weens probleme met sy reserwekragopwekker moes sluit.

Munisipaliteite se roosters vir beurtkrag het tot dusver net tot fase-4-beurtkrag gestrek, en uitgebreide roosters is inderhaas gepubliseer. Eskom het wel verlede jaar al stilweg vir ingeval van ’n noodsituasie ’n rooster vir beurtkrag tot fase 8 opgestel. Dié rooster is Maandagaand afgestof.

Die fout by Medupi was die kragtoevoer na die steenkoolvervoerband in die kragsentrale wat Maandagmiddag afgeskop het, het Eskom later bevestig. Eskom het inderhaas mynmaatskappye soos Harmony en Impala gevra om hul kragvraag te sny.

Mothae het toegegee dat die breë oorsake van die afgelope dae se kragkrisis die jare lange verwaarlosing van die behoorlike instandhouding by Eskom se verouderde steenkoolkragstasies is.

Peter Attard Montalto, kapitaalmarkontleder van Intellidex, sê hulle het al onlangs hul groeiverwagting vir die ekonomie vir vanjaar tot 0,4% afgeskaal, teenoor die nasionale tesourie se jongste skatting van 0,5%. Intellidex verwag beurtkrag kan die 0,4% na 0,3% verlaag, het Fin24 berig.

Andre Botha, senior handelaar by die valutamakelaar TreasuryOne, het gewaarsku dat Eskom aangedui het dat beurtkrag nog twee jaar lank ’n alledaagse verskynsel in Suid-Afrika kan wees.

Die groenkragbedryf vra intussen dat die regering hom toelaat om meer elektrisiteit aan Eskom te lewer om beurtkrag te help verlig. Die windkragbedryf sê die hoeveelheid krag wat aan hy Eskom kan lewer, word tans beperk. Daar is sowat 500 MW se ekstra krag wat hy bereid is om teen laer pryse aan Eskom te verkoop.

Die sonkragbedryf vra op sy beurt dat die rompslomp en burokrasie rondom die goedkeuring van sonkragprojekte verminder word, en sê hy kan binne 12 maande 2 000 MW se ekstra sonkragaanlegte bou as die voorskrifte verslap sou word.

Kaapstad se munisipaliteit waarsku intussen dat beurtkrag kan veroorsaak dat die inwoners sonder water sit weens waterpompe wat vir lang tye nie kan werk nie. Rioolstelsels kan ook geraak word. Dit het reeds in die Vrystaat tot waterprobleme in sekere munisipaliteite gelei.

MTN het ook gewaarsku dat lang tye van beurtkrag sy selfoonontvangs affekteer.

Op die politieke front het die SAKP en die EFF uitgevaar teen die “neoliberale” herstruktureringsbeleid wat die regering by Eskom probeer met sy planne om Eskom in drie te verdeel. Die EFF meen die beurtkrag tans is bloot ’n komplot om privatisering af te dwing.

Dr. Blade Nzimande, hoofsekretaris van die SAKP, het op die party se kongres aangevoer dat sosialisme en nie neoliberalisme nie die antwoord op Eskom se probleme is.

John Steenhuisen, waarnemende parlementêre leier van die DA, het op sy beurt ’n nuuskonferensie by Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park, gehou en gevra dat die regering onafhanklike kragprodusente toelaat om meer krag op te wek. Daar is minstens 17 kragprojekte wat net op Mantashe se handtekening wag, het Steenhuisen gesê.

Verskaffers van sonkragstelsels vir huishoudelike gebruik en winkels ervaar intussen ’n stormloop van mense wat kragopwekkers koop en navraag oor die koste van sonpanele doen.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.