Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: Donker nag gee ons Vrydag krag

Eskom sê die beurtkrag van Donderdagaand het hom toegelaat om noodreserwes weer op te bou, en "dinge lyk nou baie beter".

Eskom waarsku die kragnetwerk is onder druk. Foto: Unsplash

Die nutsmaatskappy het Vrydag aan Netwerk24 bevestig dat die noodtoepassing van beurtkrag van 22:00 Donderdagaand tot 05:00 Vrydagoggend die kragreus 'n broodnodige kans gegee het om sy noodstelsels se reserwes aan te vul.

Beurtkrag is oornag in werking gestel nadat Eskom heelweek gewaarsku het dat daar enorme druk op die kragnetwerk is weens onbeplande onderhoud by van sy steenkoolkragsentrales. Eskom se noodkragbronne – dieselkragsentrales en pompopgaarskemas – kon nie meer voorbly nie.

Dié noodstelsels was grootliks al wat die ligte die afgelope week aan gehou het.

Eskom het aanvanklik verwag dat sy verlies aan eenhede teen Donderdag sou verbeter en weer binne die veiligheidsmarge sou val. Die kragreus kan tot 9 500 megawatt se opwekkingskapasiteit verloor voordat noodstelsels noodsaaklik raak om die ligte aan te hou.

Drie bykomende eenhede by van sy steenkoolkragsentrales het Donderdag toe egter skielik óók onklaar geraak en nóg druk op sy noodstelsels geplaas.

Dikatso Mothae, Eskom-woordvoerder, het Vrydag egter verduidelik dat eenhede nou weer aanlyn kom, en dat die kans om noodreserwes te kon opbou Donderdagaand en vroeg Vrydagoggend nou beteken dat daar weer 'n baie groter veiligheidsmarge is – selfs al sukkel ander steenkoolkrageenhede langer as verwag om weer aanlyn te kom.

"Dinge lyk nou baie beter," sê sy.

"As iets nie daadwerklik verder fout gaan nie verwag ons dat die ligte vandag (Vrydag) sal aan bly." Eskom se noodreaksie-beheersentrum vergader volgens Mothae Vrydagmiddag, waarna die risiko vir beurtkrag oor die naweek bekend gemaak sal word.

Beurtkrag is ingestel in die week van pres. Cyril Ramaphosa se tweede beleggingskonferensie. Op ’n paneelbespreking op dié konferensie het Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American, juis gesê die onsekerheid oor kragverskaffing is ’n enorme probleem vir dié mynreus.

Daar is wel tans ’n kragonderbreking in Bryanston, Johannesburg. Dis weens probleme met toerusting by ’n substasie. 

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.