Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag wink weer – maar net as ekonomie groei

Die ekonomie moet tog net nie groei nie, want as dít gebeur, gaan Eskom nie genoeg krag hê nie en sit ons weer met beurtkrag.

Dit is altans die boodskap van Nelisiwe Magubane, ’n nie-uitvoerende direkteur van Eskom.

Die Hendrina-steenkoolkragstasie in Mpumalanga is Suid-Afrika se oudste werkende steenkoolkragstasie. Hy het 10 eenhede wat elkeen 200 megawatt opwek. Foto: Eskom

Versnelde ekonomiese groei in Suid-Afrika sal tot kragonderbrekings kan lei, want Eskom se brose kragopwekkingstelsel is nie in staat om op ’n toename in vraag te reageer nie, het sy op ’n geleentheid van Afriforesight in Johannesburg gesê.

Eskom se kragopwekkingstelsel is veronderstel om ’n energiebeskikbaarheidsfaktor van 80% te hê, maar dit is tans so laag as 69%, het Magubane gewaarsku. Selfs net groei van 0,1 persentasiepunt in die bruto binnelandse produk (BBP) kan tot kragonderbrekings lei, het sy gesê.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor is die gemiddelde hoeveelheid kragopwekkingsvermoë as persentasie van die totale vermoë wat op enige gegewe tyd beskikbaar is om krag te lewer.

As vraag môre styg, sal jy elke dag beurtkrag hê.
Mike Rossouw

Eskom lewer sowat 95% van die land se krag, maar het ’n berg skuld van meer as R441 miljard en is van reddingsboeie van die staat afhanklik om nie bankrot te speel nie.

Eskom sukkel ook met bedryfsprobleme soos verouderende kragsentrales wat nie goed in stand gehou word nie, en die bouwerk aan twee nuwe kragsentrales wat al jare agterstallig en ver oor die begroting is.

Suid-Afrika ly al sedert die einde van 2005 van tyd tot tyd onder beurtkrag – ’n eufemisme vir beplande kragonderbrekings wat oor streke oor die land heen versprei word om die las op die kragnetwerk te verlig sodat ’n totale kragonderbreking vermy kan word.

Die laaste voorvalle van beurtkrag was in Maart, volgens Eskom. Maar waarnemers meen dit is grootliks weens die swakker ekonomiese prestasie. Die ekonomie het in die eerste kwartaal met 3,2% gekrimp – die grootste inkrimping in ’n dekade.

Mike Rossouw, ’n onafhanklike energie-adviseur, sê beurtkrag was afwesig omdat die kragvraag swakker was. “As vraag môre styg, sal jy elke dag beurtkrag hê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.