Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag word fase 4 ná sikloon in Mosambiek

Die tropiese sikloon Idai in Mosambiek het Suid-Afrika Saterdag in fase 4-beurtkrag gedompel. Die land is so afhanklik van krag-invoer van buurlande dat ’n verlies van 1 100 MW uit Mosambiek Eskom gedwing het om fase 4-beurtkrag te implementeer. Dit beteken daar was ’n tekort van 4 000 MW se opwekkingsvermoë.

Andrew Etzinger, waarnemende hoof van kragopwekking, het aan Rapport gesê die transmissielyne vanaf Mosambiek na Suid-Afrika is deur die sikloon beskadig.

Meer as 100 mense is reeds in Mosambiek en Malawi dood weens die sikloon.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Saterdagmiddag dringend met Eskom se bestuur vergader oor die dramatiese verergering van Eskom se beurtkrag-omvang. Eskom se opwekkingsvermoë het binne ure van fase 2 tot fase 4 gevryval.

Verbruikers het woedend gereageer op sosiale media. Die app EskomSePush, wat verbruikers waarsku voor hul donker beurt aanbreek, was vir ’n tydjie oorweldig deur al die navrae.

Eskom het Vrydagaand reeds gewaarsku dat fase 2-beurt­krag verbruikers se voorland is vir die hele naweek en moontlik tot die middel van die week. Dit sou Eskom kans gee om die dieselvoorrade vir sy dieselturbines en die water vir sy pompskemas aan te vul.

Etzinger sê twee ander eenhede by kragstasies het Vrydagnag ook onklaar geraak. Hy wou nie sê watter twee dit is nie en het die skuld grootliks op die gebeure in Mosambiek gepak.

Die een transmissielyn wat krag van Cahora Bassa na Suid-Afrika herlei, het Vrydag omstreeks middernag ingegee en die ander omstreeks 10:00 Saterdag.

Eskom het vanaf 10:00 beurtkrag tot fase 3 opgestoot en gewaarsku dat die situasie onvoorspelbaar is en beurtkrag kon vererger. Teen 12:00 het dit verhoog tot fase 4. Fase 4-beurtkrag beteken dat verbruikers in baie gevalle meer as een keer per dag vir ’n uur of wat sonder krag sit.

Eskom is veronderstel om meer as 46 000 MW se opwekkingsvermoë tot sy beskikking te hê om in die huidige vraag te voorsien.

Die kragvoorsiener het vroeër die gemiddelde aanvraag vir die afgelope week op 27 000 MW geraam, maar oor naweke behoort dit nog laer te wees.

Volgens Etzinger is net 67% van Eskom se kragopwekkings-vermoë beskikbaar, wat baie laer is as die mikpunt van 80%.

Eskom het beklemtoon dat beurtkrag ’n noodmaatreël is om te keer dat die kragstelsel heeltemal in duie stort.

As dit gebeur, kan die land minstens twee weke in duisternis gehul wees. Dit is tans onseker wanneer Eskom beurtkrag sal kan verminder.

Etzinger sê die swaar reën in die buurland, wind en die feit dat dit oor ’n landsgrens is, maak dit moeilik om te bepaal wanneer die transmissielyne van Cahora Bassa herstel sal kan word.

Die situasie die res van die week sal bepaal word deur die omstandighede op die grond, sê Etzinger.

Meer oor:  Andrew Etzinger  |  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.