Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Binneland kan brandstoftekort ervaar

Motoriste in die binneland kan dié week steeds brandstoftekorte ervaar nadat ’n Transnet-pypleiding, wat brandstof van Durban na Gauteng gelei, weens diefstal beskadig is. 

In die huidige finansiële jaar was daar reeds 21 voorvalle van peutery met Transnet-pypleidings met die doel om brandstof te steel.

Die bepaalde pypleiding strek van Durban tot in Jameson Park in Johannesburg. Die skade, wat in die Balfour-omgewing tussen Villiers en Heidelberg aangerig is, is reeds herstel, maar dit kan lei tot vertragings in die verskaffing van brandstof aan afsetpunte in die binneland. 

Raffinaderye verwerk ru-olie in diesel en petrol en ander byprodukte soos paraffien.

Die jongste brandstoftekort volg kort ná ’n dieseltekort die afgelope twee weke oor die land heen wat daartoe gelei het dat diesel gerantsoeneer moes word. 

Die feit dat die land se ses raffinaderye nie in vroeëre vlakke van inperking gefunksioneer het nie, het die dieseltekort veroorsaak. Raffinaderye verwerk ru-olie in diesel en petrol en ander byprodukte soos paraffien. 

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie en mynbou, sê sekere sektore van die ekonomie soos landbou en die langafstandvervoerbedryf het ondanks die inperking steeds voortgegaan met hul bedrywighede – wat swaar op dieselverbruik steun. Die vraag het dus die aanbod oorskry. 

Die Suid-Afrikaanse brandstofbedryfsvereniging (Sapia) het in ’n verklaring gesê al die raffinaderye funksioneer weer soos gewoonlik en Suid-Afrika het genoeg diesel- en petrolvoorraad. Die skade aan die Transnet-pypleiding sal egter oponthoude veroorsaak met die vervoer van brandstof na die binneland wat tot tekorte kan lei. Dit het vrese laat ontstaan dat kos en ander noodsaaklikhede nie versprei sal kan word nie. 

Gavin Kelly, tegniese en bedryfsbestuurder van die Padvragvereniging van Suid-Afrika, sê die vrese is ongegrond. Die brandstoftekort sal volgens hom nie ’n impak op die beskikbaarheid van kos hê nie. “Mense moet versigtig wees vir onnodige paniek wat gesaai word en fokus op die feite.

”Die onlangse styging in brandstofpryse het ook tot ’n stormloop deur die publiek gelei. Dit het tot die tekort bygedra, het Kelly gesê.

“Maar dis nog nie ’n grootskaalse probleem nie. Dis belangrik dat mense nie nou brandstof in grootmaat gaan koop nie, want juis dit sal probleme veroorsaak.”

39% van boere ervaar tans ’n brandstoftekort, toon ’n peiling deur AMT, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat in markontleding en vooruitskattings in die landboubedryf spesialiseer. ’n Mielieboer van Noordwes het gesê hy is bekommerd dat die tekort sy bedrywighede nadelig sal beïnvloed.

“Ek is besig om te stroop en het nog net genoeg diesel vir ’n week. Ek het dié week probeer bestel, maar geeneen van die verskaffers het tans voorraad nie.”

Dr. Requier Wait van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid sê dit is inderdaad veral die binneland wat sukkel met ’n tekort, maar hy voorsien nie tans enige langtermynprobleme vir boere nie. 

Corné Louw van Graan Suid-Afrika sê die organisasie is ten gunste van die rantsoenering van brandstof sodat daar genoeg is vir almal en stropery kan voortgaan.

Meer oor:  Durban  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.