Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Biobrandstof kry weer lewe
Kanolavelde in die omgewing van Caledon in die Overberg. Die olie van kanolasade kan vir die produksie van biodiesel gebruik word.Foto: CARINA ROUX

Die regering se besluit om sy biobrandstof-strategie te laat herleef is verwelkom deur die organisasie FairPlay, wat hom vir gelyke handelsreëls beywer.

Dit spruit uit ’n aankondiging verlede week deur Jeff Radebe, minister van energie, dat die regering ’n reguleringsraamwerk wil finaliseer vir die verpligte inmeng van biobrandstof by gewone brandstof.

Dit sal dan teen einde Maart volgende jaar deur die kabinet goedgekeur word.

Die regering skrik nou wakker met biobrandstof nadat hy hom al meer as ’n dekade gelede tot ’n biobrandstofstrategie verbind het. Aanvanklik wou die regering hê 2% van elke liter petrol moet etanol wees, en teen 2015 is besluit dit kan tussen 2% en 10% wees. Maar geen finale besluit is geneem nie en die strategie is sedertdien nog nie in werking gestel nie.

Die voorstel was ook dat 2% van diesel uit biodiesel moet bestaan, wat van sojaboon-, sonneblom- of kanola-olie gemaak kan word.

Die verpligte inmeng van bio-etanol by petrol sal werk skep, vaste investering en tegnologiese ontwikkeling bevorder, asook die suikerproduksie uitbrei, sê FairPlay.

Die plaaslike suikerbedryf voer ook al jare die veldtog om die verpligte inmeng van etanol te laat realiseer omdat dit ’n alternatiewe inkomstebron sal wees vir die suikerbedryf wat ly onder goedkoop internasionale invoer en onmededingende suikerpryse. Etanol word van suikerriet gemaak, maar kan ook van sorghum, mielies of suikerbeet gemaak word.

Die suikerrietboer Charl Senekal in ’n suikerrietland op sy plaas by Pongola in KwaZulu-Natal. Suikerriet kan gebruik word om bio-etanol te vervaardig. Foto: HERMAN VERWEY

Die suikerbedryf raam dat 25 000 ekstra poste kan in die bedryf geskep word as die biobrandstofstrategie ingestel word, het Francois Baird, stigter van FairPlay, gesê.

’n Aanvanklike euforie oor die potensiaal van biobrandstof vir Suid-Afrika het van die middel tot laat 2000’s in die land geheers, met ’n paar aanlegte vir die produksie van biodiesel en bio-etanol wat met groot fanfare bekend gestel is. Die meeste van dié aanlegte het intussen weens die beleidsonsekerheid en vertragings aan regeringskant weer gesluit of het nooit van die grond af gekom nie. Die regering was in ’n stadium besorg dat grootskaalse produksie van biobrandstof die beskikbaarheid van genoeg kos sal bedreig.

Die Universiteit Stellenbosch het heelwat navorsing gedoen oor die vervaardiging van biobrandstof uit nie-voedselplantmateriaal soos sekere grasse, riete en alge.

Brasilië is van die lande wat met die grootste sukses ’n biobrandstofbedryf begin het en tot 70% van alle voertuie daar gebruik biobrandstof.

Meer oor:  Brandstofbedryf  |  Brandstof  |  Suikerbedryf  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.