Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Blinde geloof en ’n Superheld skyn redding te wees

Woensdag was ’n swart dag by die land se petrolpompe.

Herman Scholtz

Vir die eerste keer sedert ek self vir my Ford Meteor moes brandstof koop op pad na die universiteit in Bloemfontein, het ek heimlik gehoop die petrolprys het oornag gestyg. Naïef het ek gehoop dat rasionele denke bo populisme sal seëvier. Die realiteit is dat die petrolprys met meer as 30c per liter moes styg.

Die wensdenkery wat die regering aangegryp het, is dat jy kan “ingryp” soos ’n wafferse Superman en jou ondersteuningsbasis paai sonder om onmeetbare skade aan te rig.

Amerika het Clark Kent. Ons het Cyril Ramaphosa.

Check dit uit.

Oudpres. Jacob Zuma was die opperpriester van blinde geloof. As jy nie weet wat jy nie weet nie, is dit makliker om net te glo in dít wat nie moontlik is nie.

Soos met enige ander resep vir ’n superhelde-fantasieverhaal het jy net die regte bestanddele nodig. Konflik in die vorm van openbare druk en verset oor die petrolprys, ’n lagie vernis in die vorm van koerantopskrifte wat uitbasuin dat die regering die verhoging “absorbeer” en selfs “subsidieer” en blinde geloof dat iets binne die volgende 20 dae gaan gebeur om die verhaal geloofwaardiger te maak.

Die direkte en skokkende ingryping van die regering behoort ons diep onrustig te stem. Dis ’n stomende pot strooi. Ons behoort dié “geskenk” te verwerp, al is dit hoe moeilik in September.

Maar die mensdom was nog altyd suckers vir superhelde en blinde geloof.

Oudpres. Jacob Zuma was die opperpriester van blinde geloof. As jy nie weet wat jy nie weet nie, is dit makliker om net te glo in dít wat nie moontlik is nie.

Wie kan vergeet van die WhatsApp-groep van Zuma-volgelinge waar ’n minister gesê het dis ’n goeie ding as die rand heeltemal in duie stort, want dan kan hulle dit weer optel en ’n goeie wins maak?

Zuma se volgelinge is nie net randfigure wat uitgestem is by Nasrec of ongeletterdes op die platteland nie. Sy kerk van Radikale Ekonomiese Transformasie floreer, want die breër publiek het gesien wat moontlik is as jy net glo. Waar ’n Zuma was, was ’n weg.

  • Die doemprofete, sogenaamde kenners en die media het tot vervelens toe gesê gratis hoër onderwys is nie bekostigbaar nie. Selfs ’n sogenaamde kommissie onder leiding van ’n regter wat net ’n suurknol was, is in die ongelowiges se oë verkeerd bewys. Ons hét mos nou gratis onderrig en die hemele het nie ineengestort nie. Net die skoolgeboue.
  • Die sogenaamde inflasiekoers is ontmasker as ’n uitvindsel van die Weste om Suid-Afrikaners te onderdruk. Dit is toe heeltemal moontlik om ’n dekade lank bo-inflasie-verhogings vir die kaders in die staatsdiens te gee – en niks het verander nie. Nee, regtig niks nie. Hulle voel steeds arm en verontreg.
  • Dis duidelik moontlik – en selfs wenslik – om sekere skurke van hul belastingplig te onthef, en die belastingbasis is heeltemal groot genoeg om die groeiende maatskaplike vangnet te diens.

Met elke ekonomiese “onmoontlikheid” wat Clark – skuus, Cyril – se regering nou “moontlik” maak, raak die

breër publiek al hoe gemakliker met bonatuurlike kragte en wonderwerke:

  • Dis moontlik om $100 miljard se nuwe buitelandse beleggers te lok terwyl jy uit eie beweging ’n verandering aan die Grondwet voorstel om die einste beleggers se eiendomsreg weg te skaaf. Dit moet waar wees, want met elke staatsbesoek kondig hy nóg nuwe beleggings aan – die feite op grondvlak ten spyt.
  • Dis moontlik om Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens reg te ruk. Al wat jy moet doen, is daaroor praat. En sekerlik in die geheim bid, maar net nie so hard dat die volgelinge jou hoor nie. Dis klaarblyklik nie nodig om iets te dóén nie.
  • Die nasionale gesondheidsversekering (NGV) is heeltemal haalbaar. Om dit te bewys, neem Ramaphosa nou persoonlik beheer oor die projek oor in aanloop tot volgende jaar se verkiesing.

Natuurlik is daar ’n rol vir regulering deur die regering en natuurlik kan Cyril en kie iets doen aan die petrolprys. Hou op om die rand te verkrag. Stryk die Padongelukkefonds se probleme uit. Hersien die heffings op ’n verantwoordelike manier deur ’n begrotingsproses.

Maar dis nou nie heeltemal so sexy en goed vir stemme werf nie.

Met die nuwe resep, en met elke gewaande wonderwerk in die breër publiek se oë, raak die grense tussen realiteit en fantasie al hoe dowwer.

G’n wonder gesprekke soos oor die nasionalisering van die Reserwebank omdat ons dan mos ons eie geld kan druk, word nie meer deur randeiers bespreek nie, maar in die banke van die parlement.

Dan maak dit meer sin waarom Zimbabwe geglo het hulle kan probleme oplos met ingrypings soos om 12 nulle van hul geldeenheid af te kap. Of vir Venezuela om te sê ’n brood kos voortaan R10 en basta.

Sien, dis moontlik. Al wat jy nodig het, is blinde geloof en ’n superheld of twee.

  • Herman is nuusredakteur van Rapport.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.