Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Boere mag nou nog nie op klein skaal krag opwek
Fotovoltaïese sonpanele op die dak van die Route 62 Mall in Robertson, wat die diensverskaffer InfoLED saam met Build Africa Energy geïnstalleer het. Foto: Infoled

Die nasionale energiereguleerder (Nersa) gooi wal.

Die brief wat Jeff Radebe, minister van energie, vroeg in Mei aan hulle gestuur het is nie ’n opdrag om outomaties alle lisensieaansoeke vir kleinskaalse kragopwekking sonder ’n behoorlike proses goed te keur nie.

Nersa het Woensdag wakker geskrik en gereageer ná maandelange klagtes deur onder andere die landbou-organisasie Agri SA dat die reguleerder die goedkeuring van projekte om onbekende redes vertraag.

Talle boere wil graag met sonkrag en ander maniere hul eie krag opwek om te ontsnap uit die kloue van Eskom se stygende kragtariewe en beurtkrag, maar volgens Agri SA is daar 17 projekte wat in Nersa se burokratiese doolhof verstrengel is.

Nersa het Woensdag toegegee hy is oorval met navrae van verskeie belanghebbers wat duidelikheid wil hê oor Radebe se brief.

Die brief is op 2 Mei gestuur en is ’n amptelike toestemming dat afgewyk kan word van die bestaande geïntegreerde hulpbronplan (IRP) sodat klein kragopwekkingsprojekte van tussen 1 megawatt en 10 megawatt (MW) gelisensieer kan word.

Die huidige IRP het nie ’n spesifieke toekenning aan sulke kleinskaalse projekte nie, terwyl ’n konsepweergawe van die nuwe IRP wat nog finaal goedgekeur moet word, voorsiening maak vir 500 MW se kleinskaalse kragopwekking per jaar.

Volgens Nersa is Radebe se brief nie ’n blanko opdrag om onmiddellik alle aansoeke goed te keur nie. Nersa sal steeds alle prosesse vir lisensieaansoeke moet volg. Projekte wat kleiner as 1 MW is sal ook by Nersa geregistreer moet word en die voorgeskrewe registrasiegeld moet betaal word.

Volgens Agri SA het die 17 projekte wat vertraag word reeds hul registrasiegeld van R200 betaal, maar steeds is die projekte nog nie geregistreer en goedgekeur nie.

Nersa sê op sy beurt al die aansoekers moet voldoen aan die toepaslike wetgewing deur relevante en voldoende inligting te verskaf. Die toepaslike wetgewing sluit in die Wet op die Nasionale Energiereguleerder van 2004, die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid van 2000, en die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006.

Volgens Nersa sal hy nou ’n werksessie reël om duidelikheid te gee oor sy prosesse en oor die inligting wat nodig is om die aansoeke te evalueer. Volgens Nersa is inligting oor die registrasieprosedure op sy webtuiste by www.nersa.org.za.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Sonkrag  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.