Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Boikotters ‘teiken verkeerde Sasol’ oor swart skema

As jy Sasol wil straf oor sy aandeelskema wat vir swart mense gereserveer word, boikot jy die verkeerde mense as jy weier om brandstof by Sasol-vulstasies in te gooi.

SOWETO, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 7: Early morning a
Vulstasie-eienaars het niks met Sasol se Khanyisa-aandeelskema te doen nie. Foto: Getty Images

Só voer Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa), aan in ’n ope brief aan motoriste.

Papenfus verduidelik Sasol lewer as groothandelaar brandstof in groot gebiede aan alle brandstofmaatskappye, en die boikot van Sasol-vulstasies wat sedert Augustus verlede jaar via sosiale media aangevoor is, het dus ’n baie klein uitwerking op Sasol as maatskappy.

Maar dit raak wel sommige vulstasies met die Sasol-handelsmerk, waar brandstofverkope volgens Papenfus gemiddeld met 20% gedaal het en in sommige gevalle selfs soveel as 40%.

Dié vulstasie-eienaars het niks met Sasol se Khanyisa-aandeelskema te doen nie. Hulle is bloot eienaars van vulstasies wat ’n franchise-ooreenkoms met Sasol het om Sasol se naam aan hul vulstasie te koppel. Hulle het ’n ooreenkoms met Sasol om sy handelsmerk te bemark en hulle moet tantième aan Sasol betaal op grond van die volume brandstof wat hulle verkoop.

(Trouens verkoop Sasol-vulstasies in streke ver weg van Sasol se steenkool-tot-brandstofaanleg in Secunda of sy en Total se Natref-raffinadery in Sasolburg waarskynlik brandstof wat oorspronklik van Engen, Shell, BP of PetroSA kom.)

Papenfus meen dus die boikot is teenproduktief, want dit word gegrond op die valse aanname dat Sasol regstreeks gestraf word as ’n Sasol-vulstasie geboikot word.

Hy vra in die ope brief motoriste om weer die Sasol-vulstasies te ondersteun.

Sasol het nog nie op spesifieke navrae gereageer nie, maar sy jongste finansiële state wys nie hoeveel hy verdien uit tantième van Sasol-vulstasies nie. Sasol toon vir die halfjaar tot einde Desember in werklikheid ’n groei in brandstofverkope van 4% danksy groter verkope aan groothandel- en kommersiële klante.

Hy meld wel die kleinhandelmark is geraak deur swak marktoestande in Suid-Afrika.

Sasol sê hy gaan in die komende jaar 15 nuwe Sasol-vulstasies oopmaak, waarvan sommige nuut is en ander omskakelings van bestaande vulstasies van ander oliemaatskappye is, vir ’n totaal van 411 vulstasies in sy netwerk.

Meer oor:  Sasol  |  Petrosa  |  Gerhard Papenfus  |  Energie  |  Maatskappye  |  Boikot  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.