Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Botswana vra Chinese geld om steenkool te ontgin

Botswana is van plan om ses nuwe steenkoolmyne oop te maak en ’n spoorlyn te ontwikkel waarmee hy die steenkool wil uitvoer.

Botswana wil dringend nuwe steenkoolmyne ontwikkel om voordeel te trek uit sy meestal onaangeraakte steenkoolreserwes. Foto: Unsplash

In ’n tyd waar al hoe minder fondse beskikbaar is vir die ontgin van fossielbrandstowwe, beweeg Botswana teen die stroom op met sy planne om Chinese beleggers te soek vir die nuwe myne.

Die regering van Botswana voel so ernstig oor dié vooruitsigte dat daar selfs regeringsgeld hiervoor bewillig is.

Baie banke raak toenemend sku om lenings te gee vir steenkoolprojekte. Dít ten spyte van steenkoolpryse wat hoog bly en aanvraag veral uit Asië wat ook steeds sterk is.

Die Industrial and Commercial Bank of China het onlangs ’n lening van $3 miljard wat hy aan ’n steenkoolaanleg in Zimbabwe toegestaan het, teruggetrek nadat verskeie omgewingsaktiviste druk op die regering geplaas het.

Botswana sit op meer as 200 miljard ton steenkoolreserwes wat die land nog kan ontwikkel.

In pogings om dit so gou as moontlik te doen, sleep die regering nou vlerk by die land wat die prys kry vir grootste verbruiker van steenkool wêreldwyd.

Op ’n aanlyn vergadering met Chinese beleggers het Botswana gesê die land het heelwat steenkool wat ontgin kan word en boonop nie te diep onder die grondoppervlak is nie.

Die versoek aan die Chinese is gelei deur die Africa Guangdong Business-vereniging.

Botswana wil voordeel trek uit wat die land beskou as ’n tydperk waarin steenkool steeds in aanvraag gaan wees voordat dit heeltemal vervang word deur ander, skoner en omgewingsvriendelike energiebronne.

“Ons sien hierdie venster,” sê Charles Siwawa, uitvoerende hoof van Botswana se kamer van mynwese. “Ons het baie steenkool en al kry ons net $10 miljard tot wanneer ons nie meer steenkool mag ontgin nie, sal dit klaar baie vir ons land se ekonomie beteken.”

Spoorweg na Suid-Afrika

’n Spoorweg is egter een van die sleutelfaktore wat nodig is vir die beplande projek.

Botswana is ’n land sonder see en dus ook sonder ’n hawe. Daarom wil Suid-Afrika se buurland ’n treinspoor bou van 125 km tussen die twee lande.

Die spoorlyn sal ongeveer $150 miljoen tot $250 miljoen kos om te bou, is aan die Chinese beleggers gesê, berig Bloomberg.

Indien die spoorlyn voltooi word, sal dit sowat 25 miljoen ton per jaar tussen Botswana en Suid-Afrika kan vervoer.

Botswana het nie op dieselfde vlak soos Suid-Afrika die afgelope dekades steenkool ontgin nie en daarom het hy nou hierdie groot reserwe.

“Moet geen fout maak, ons almal wil ’n skoon aarde hê, maar ons glo ook mens kan nie net die oorvloed van ’n Godgegewe hulpbron net so ignoreer nie,” sou Lefoko Moagi, Botswana se minister van minerale verlede jaar blykbaar aan ’n plaaslike koerant sê.

Meer oor:  Mynbou  |  Kragvoorsiening  |  Botswana  |  Omgewingsbewaring  |  Energie  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.