Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Brandstof: Jy betaal vir seerowers!

Die regering moet met groter ywer met olieversenders onderhandel oor die premie van 15% op vragtariewe na Suid-Afrika.

olie,skip,olieskip
'n Klein deel van die brandstofprys bestaan uit die koste om olie per skip na Suid-Afrika te vervoer. Die vragtariewe daarop het tans 'n premie van 15% vir olievervoer na Suid-Afrika weens onder meer die risiko van seerowery. Foto: Getty Images

Die parlement se portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie het vandeesweek dié opdrag gegee aan staatsamptenare wat die komitee oor die samestelling van die brandstofprys toegespreek het.

Die premie van 15% op vragtariewe vorm deel van die formule van die basiese brandstofprys (BFP), het Robert Maake, direkteur verantwoordelik vir brandstofprysbeleid by die departement van minerale hulpbronne en energie, aan die komitee verduidelik.

Mikateko Mahlaule en Kevin Mileham, onderskeidelik ANC- en DA-lede van die komitee, was erg omgekrap oor die 15%-premie op die vervoer van ruolie na Suid-Afrika.

Hoewel Maake gesê het die departement kyk van tyd tot tyd na die 15%-premie, meen Mileham daar is tog sekerlik ’n dringende noodsaak om die premie te verwyder.

Dit kom neer op onbillike handelspraktyk om dit van Suid-Afrika te vra en nie van ander lande nie.

LEES OOK: Sit jy? Want ons het nuus oor petrol, diesel

“Moenie dit net van tyd tot tyd bekyk nie! Raak ontslae daarvan, want dis onbillik teenoor Suid-Afrikaanse verbruikers!”

Die 15%-premie spruit uit die oorgangstyd tussen die era van sanksies teen Suid-Afrika en die demokratiese era, het Teliso Maqubela, adjunkdirekteur-generaal van brandstofbeleid, probeer verduidelik.

seerowery
Die Britse weermag neem vermeende seerowers in hegtenis naby die kus van Somalië tydens 'n operasie in 2012. Foto: AP

Later was daar ander oorwegings, soos die voorkoms van seerowery aan die Wes- en Ooskus van Afrika wat dit vir skepe baie gevaarlik gemaak het om olie na die suidpunt van Afrika te vervoer.

Volgens Maqubela was daar ’n internasionale reaksie waar lande hul vlote ontplooi het om die seerowery te bestry, en dit het wel afgeneem, so hy stem saam dis tyd dat die premie hersien word.

Dit behels volgens hom dat vragversenders oop kaarte met die departement moet speel om te verduidelik presies wat hul koste is om olie of brandstof na Suid-Afrika te vervoer.

Deregulering

Komiteelede wou weet hoekom die departement nie diesel ook op kleinhandelvlak reguleer, soos petrol, nie. Dis ook ’n vraag wat lesers gereeld vra.

“Die witskrif oor energiebeleid van 1999 bepaal dat mettertyd na deregulering gemigreer moet word en dus is ons huiwerig om diesel te herreguleer,” het Maqubela geantwoord.

“Ons voer meer as 30% van ons diesel in, ons produseer nie al die diesel wat ons nodig het in die land nie, so ons moet dit nie reguleer nie. Die regering se bedoeling is om stelselmatig te probeer namaak wat in die mark gebeur.”

Kragskepe

Op die vraag of die kragskepe wat moontlik by Saldanha en Richardsbaai vasgemeer gaan word vir noodkrag nie gaan inmeng met die invoer van olie en brandstof nie, het Maqubela bevestig dit sal geen invloed hê nie.

Dit sou wel ’n ander storie gewees het as die kragskepe in Kaapstad of Durban was, wat groot invoerhawens vir olie en brandstof is.

Maandelikse aanpassings

Maqubela het die maandelikse aanpassing in brandstofpryse verdedig en meen kwartaallikse aanpassings sou beteken pryse sou nog meer drasties moes verander. Toe oliepryse in 2020 so skerp afgekom het weens die Covid-19 pandemie, is besluit om elke sent van die daling aan verbruikers deur te gee eerder as om dit terug te hou, en sodoende is gehelp om sakekoste te verlaag.

Dit het ook die Reserwebank die ruimte gegee om rentekoerse te kon verlaag gegewe die invloed van brandstofpryse in die inflasiemandjie.

Maqubela het toegegee die koms van elektriese voertuie is ’n dreigende gevaar vir die Padongelukfonds. Die beweegruimte om inkomste vir die fonds via brandstofverkope in te samel, sal al hoe kleiner word en uiteindelik verdwyn.

PetroSA en raffinering

Oor Suid-Afrika se krimpende raffineringsvermoë het Maqubela gesê die pandemie het die druk op raffinaderye verhoog namate brandstofvraag afgeneem het.

Afrika as kontinent verteenwoordig 3% van die internasionale raffineringskapasiteit, met Egipte die grootste raffineerder. Suid-Afrika was lank tweede, maar Nigerië het die tweede plek oorgeneem ná die bou van die eerste mega-raffinadery in Afrika suid van die Sahara. Die Nigeriese sakemagnaat Aliko Dangote het dit laat bou.

Suid-Afrikaanse brandstofmaatskappye voer reeds brandstof van dié raffinadery in.

LEES OOK: Engen wil glo Durban-raffinadery sluit

Indië het ook mega-raffinaderye wat brandstof uitvoer. Indië het meer as 'n miljard mense, maar sy brandstofverbruik is laag. “Teen die tyd dat hulle wel meer brandstof gaan benodig, sal hulle die meeste van hul huidige uitvoerkapasiteit herkanaliseer na binnelandse verbruik, en ons as beleidmakers moet dit dophou.”

gasbronne
PetroSA se krimpende gasbronne.

Volgens Maqubela het PetroSA, wie se gas-tot-brandstofaanleg by Mosselbaai tans gesluit is, belowe hy soek alternatiewe insetvoorraad vir sy aanleg. Aardgasreserwes aan die Suid-Kaapse kus is uitgeput, en PetroSA hoop om van die aardgas te koop wat die Franse oliereus Total in die omgewing ontdek het.

Hy meen nuwe invoergeriewe vir brandstof by Kaapstad en Durban, asook Transnet se brandstofpypleiding van Durban na Gauteng, het ’n positiewe uitwerking op brandstofvoorsiening in die land.

Dit het gehelp dat daar ondanks die sluiting van drie raffinaderye steeds nie erge brandstoftekorte was nie.

Die brandstofgroep Chevron, wat intussen sy raffinadery in Milnerton aan Altron Energy verkoop het, was aanvanklik erg gekant teen die bou van ’n nuwe invoer- en opgaargerief in die Kaapse hawe, Burgan Cape Terminals. Maar nou is dit ’n redder oor Altron se raffinadery moes sluit weens ’n ontploffing.

Nog ’n invoereindpunt word vir die Coega-gebied voorgestel, want die bestaande een by Gqeberha (Port Elizabeth) gaan binnekort sluit om plek te maak vir ’n waterfrontontwikkeling, het Maqubela gesê.

Richardsbaai en selfs Maputo in Mosambiek word ook belangrike hawens vir voorsieningsekerheid.

Maqubela meen Projek Mthombo – die plan van PetroSA om ’n nuwe raffinadery by Coega te bou, maar wat intussen geskrap is – moes eerder voortgegaan het. Dan sou Suid-Afrika nie in die huidige penarie sit waar so baie brandstof ingevoer moet word nie.

Saoedi-Arabië se staatsoliegroep Saudi Aramco sou boonop ’n nuwe raffinadery in Richardsbaai bou, maar met Covid-19 het Saudi Aramco besluit om sy kapitaalbesteding te halveer.

Maqubela meen die verwagte groei in elektriese voertuie oor die komende dekade maak dat beleggings in nuwe raffinaderye teruggehou word. Hy meen Projek Mthombo sou vir homself kon betaal voordat elektriese voertuie brandstofvraag kan knou.

Meer oor:  Saudi Aramco  |  Petrosa  |  Chevron  |  Tseliso Maqubela  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Seerowery  |  Brandstofprysformule  |  Diesel  |  Raffinadery  |  Bfp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.