Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Brandstofdiewe slaan weer toe, besoedel hawe

Transnet Pipelines het steeds ’n voortdurende stryd teen gewetenlose brandstofdiewe wat die brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng beskadig en besoedeling veroorsaak.

Een van die pompstasies langs die roete van Transnet Pipelines se brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng.

Die onlangse vonnis van 13 jaar tronkstraf wat aan ’n brandstofdief opgelê is, het misdadigers nie afgeskrik om Maandag in die Bellair-omgewing in Durban weer by die pypleiding in te breek nie. Dit was in ’n ruoliepypleiding, wat veroorsaak het dat ruolie die Umbilo-rivier en daarvandaan ook die Durbanse hawe besoedel het.

Absorberende buffer- en veselstroke is op strategiese plekke in die rivier geplaas om verdere besoedeling te voorkom, het Tajuna Naidoo, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, Dinsdagaand in ’n verklaring gesê.

Die Umbilo-rivier vloei verby Bellair en die Umbilo-nywerheidsgebied en mond uit in die Durbanse hawe. Vir die volgende sewe dae is hengel in die hawegebied verbode, het Transnet gesê.

Transnet het in die lopende boekjaar al meer as 80 voorvalle van brandstofdiefstal aangemeld. Dit sluit voorvalle van poging tot diefstal in waar met pypleidinginfrastruktuur gepeuter is met die doel om brandstof te steel.

Die koste van dié voorvalle is enorm en sluit die koste van die brandstof, herstelwerk en omgewingsrehabilitasie in waar dit tot omgewingskade gelei het, sê Naidoo.

Transnet het reeds die pypleiding herstel ná Maandag se voorval en dit sal nie brandstofvoorsiening aan die binneland raak nie, sê sy.

Transnet Pipelines bedryf ’n netwerk van 3 800 km van hoëdrukbrandstof- en gaspypleidings tussen Durban en Gauteng, en werk saam met wetstoepassers in die stryd teen die brandstofdiewe.

Tajuna Naidoo, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet Pipelines.

Die eerste suksesvolle vervolging is onlangs afgehandel toe die oortreder 13 jaar gevangenisstraf opgelê is. Volgens Naidoo stuur die vonnis ’n sterk boodskap aan ander diewe uit dat dit ’n ernstige misdryf is om noodsaaklike infrastruktuur te beskadig.

Die pypleiding word as noodsaaklike infrastruktuur geklassifiseer, wat beteken enige peutery en samespanning tot peutery daaraan word ingevolge die Wysigingswet oor

Strafregtelike sake as ’n skedule 5-oortreding bestempel.

Ingevolge dié wet kan iemand wat noodsaaklike infrastruktuur beskadig of iemand help om dit te doen, tot so veel as 30 jaar tronkstraf kry. As dit ’n entiteit is, kan die entiteit met tot soveel as R100 miljoen beboet word.

Naidoo het weer eens inwoners en enigiemand wat naby die pypleiding woon of daar verby ry, versoek om enige verdagte bedrywighede soos bakkies of tenkvragmotors naby die klepkamers of naby pypleidingmerkers by die tolvrye nommer 0800 203 843 aan te meld.

Meer oor:  Transnet  |  Petrol  |  Brandstof  |  Besoedeling  |  Diewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.