Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Brei windkrag uit see toe, sê Jeff Radebe

Suid-Afrika behoort sy strategie te verskerp om ook aflandige windkrag te oorweeg in pas met die regering se plan om die sogenaamde oseaan-ekonomie te ontwikkel.

Die Burbo Bank- aflandige windplaas in Liverpool Bay aan die weskus van Brittanje. Foto: Windpowerworks

So het Jeff Radebe, minister van energie, Donderdag gesê in ’n toespraak wat Thabane Zulu, direkteur-generaal van energie, namens Radebe by die Windaba-konferensie voorgelees het.

Aflandige windkrag behels windturbines wat ter see geïnstalleer word. Dit is gewoonlik veel groter turbines wat meer krag kan opwek, aangesien die wind oor die see gewoonlik langer en sterker waai.

Die internasionale kragopwekkingsvermoë van aflandige windkrag kan teen 2050 sowat 52 000 MW uitmaak teenoor die huidige sowat 20 000 MW, volgens die jongste bedryfsyfers. Tot dusver is windplase in Suid-Afrika nog net op land gebou.

Aflandige windkrag is wel baie duurder, want die windturbines het veel sterker fondasies nodig en moet die ongenaakbare weerstoestande van die oseaan kan deurstaan.

Meer beleggers moet na die hernubare-energiesektor gelok word want Suid-Afrika het die beste klimaat vir hernubare energie, sê Radebe.

Windaba is die jaarlikse konferensie wat die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging aanbied.

Dis kommerwekkend dat Suider-Afrika steeds die grootste tekort aan toegang tot krag het, hoewel sedert 2010 jaarliks 100 000 nuwe huishoudings aan die kragnetwerk gekoppel is, sê Radebe.

Hy het toegegee Suid-Afrika se kweekhuisgasvrystellings is van die hoogste in die wêreld op ’n per capita grondslag.

Die departement van energie se Suid-Afrikaanse Windenergieprojek werk aan windenergie-atlasse wat wys waar die beste windenergie-hulpbronne in die land is.

Die departement het windmas-projekte wat windmetings op verskeie plekke regoor die land doen. Tot 18 maste is landwyd opgerig om windenergie te meet. Suid-Afrika dra ook by tot ’n internasionale windatlas-projek.

Die departement help met basiese opleiding in windturbine-instandhouding, sê Radebe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.