Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Brics-bank skiet miljarde voor vir projekte in SA

Drie van die vyf nuwe projekte wat die Brics-bank goedgekeur het, is in Suid-Afrika, sê die ministerie van finansies in ’n verklaring ná afloop van die bank se jaarlikse byeenkoms wat vanjaar in Kaapstad gehou is.

Tito Mboweni, minister van finansies, Maandag op die jaarlikse byeenkoms van die Brics-bank in Kaapstad. Hy is die voorsitter van die raad van goewerneurs van die bank. Foto: Verskaf

Die vyf projekte bring die totale ondersteuning wat dié bank, bekend as die Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB), reeds aan projekte in sy vyf lidlande gegee het op $9,2 miljard te staan.

Hierdie drie projekte is bo en behalwe die leningsooreenkomste wat op 1 April tussen die NDB, Eskom en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika onderteken is.

Sodra die NDB ’n projek vir finansiering goedgekeur het, begin die bank se bestuur en die betrokke onderneming met onderhandelinge wat uiteindelik tot ’n leningsooreenkoms lei, sê die tesourie.

Die drie projekte wat vir finansiering goedgekeur is, is vir Eskom, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en die Trans-Caledon-tonnelowerheid (TCTA).

Saamgevat lyk dit so:

1. ’n Lening vir die NOK van R1,15 miljard vir ’n hernubare-energie-ontwikkelingsprojek wat altesaam R11,8 miljard sal kos. Die NOK sal die geld uitleen aan geïdentifiseerde subprojekte.

2. ’n Lening van R3,2 miljard aan die TCTA vir die tweede fase van die Lesotho Hoogland-waterprojek. Dit sluit in die konstruksie van ’n dam en ’n tonnel. Die totale projekkoste is R24,3 miljard.

3. ’n Lening aan Eskom van $480 miljoen vir die omgewingsbeskermingsprojek van die Medupi-kragstasie. Die totale projekkoste is $2,7 miljard.

Die leningsooreenkomste wat Maandag op die byeenkoms onderteken is, is vir:

1. ’n Lening aan die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika van $300 miljoen vir die vermindering van kweekhuisgasvrystelling en ontwikkeling in die energiesektor. Die totale projekkoste is $600 miljoen. Die projek word oor 15 jaar van 2018 tot 2033 in werking gestel en die geld sal uitgeleen word aan geïdentifiseerde sub-projekte. Die lening is in 2017 goedgekeur.

2. Die projekfinansieringsgerief vir Eskom: Die totale projekkoste beloop sowat R3,6 miljard ($225 miljoen) en die lening beloop sowat R2,8 miljard ($180 miljoen). Die lening is reeds op 13 April 2016 goedgekeur. Die finansieringsgerief is bedoel vir hernubare-energieprojekte en om Eskom se kragnetwerk na Soweto te verbeter of op te knap, toon die projekinligting op die NDB se webwerf. Die projek is veronderstel om in sub-projekte opgedeel te word. Dit sluit in die integrasie van sewe hernubare-energieprojekte van onafhanklike kragverskaffers, die integrasie van ’n versnelde onafhanklike kragverskaffingsprojek vir Upington, die konstruksie van die transmissielyne en ’n substasie in Soweto en die konstruksie van transmissielyne vir Ankerlig-Sterrekus. In die projekinligting word gesê Eskom kan toekomstige sub-projekte voorstel aan die NDB vir ’n totale termynlening van $180 miljoen. Vandeesweek is ’n ooreenkoms vir $180 miljoen onderteken.

Op die NDB se webwerf word verwys na nog ’n projek wat al voorheen vir Suid-Afrika goedgekeur is, naamlik die opknapping van die Durbanse vraghouerkaai. Die lening is aan Transnet. Die totale projekkoste beloop sowat R8,4 miljard ($643 miljoen) en die NDB gaan $200 miljoen aan Transnet geleen. Die direksie van die bank het dit op 28 Mei 2018 goedgekeur.

Een van die groot besluite op die byeenkoms in Kaapstad was ’n besluit in beginsel om die lidmaatskap van die NDB uit te brei. Onderhandelinge daaroor het begin en ’n aankondiging word teen die einde van die jaar verwag.

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Nok  |  New Development Bank  |  Hernubare Energie  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.