Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Buig of bars, ons bou Kusile en Medupi klaar’

Eskom het ’n kostevoordeel-ontleding gedoen om te kyk of dit sou sin maak om die bouwerk aan sy nuwe steenkoolkragstasies, Kusile en Medupi, te staak.

'n Foto van Murray & Roberts van die Medupi-kragstasie waarop hy gewerk het.

Maar sy gevolgtrekking was dat dit R140 miljard sou kos om die kragstasies onvoltooid te los, en die direksie het besluit Eskom gaan voort om albei kragstasies klaar te bou.

Dít blyk uit inligting in Eskom se jongste jaarverslag.

Dr. Grové Steyn, ekonoom van Meridian Economics, het in die verlede al gesê Eskom kan R17 miljard spaar as hy dit laat vaar om die laaste twee eenhede van Kusile te voltooi en as hy van sy oudste kragstasies soos Grootvlei, Hendrina, Komati en Camden sou sluit.

Volgens hom kan tussen R2,4 miljard en R4,4 miljard gespaar word as die laaste twee eenhede by Kusile laat vaar word.

Die blote feit dat Eskom 'n kostevoordeel-ontleding gedoen het, impliseer dat die staatsbeheerde kragmonopolie die opsie wel ernstig oorweg het.

steenkoolkragstasies
Die bou van Eskom se twee nuwe steenkoolkragstasies is gekenmerk deur vertragings weens onder meer arbeidsonrus en foute, asook al hoër koste.

Eskom het gaan kyk hoe verstandig dit sou wees om bouwerk aan die laaste drie eenhede by Kusile en die laaste eenheid by Medupi te staak.

Die ontleding het volgens hom gekyk na die ingenieurs-, tegniese, kommersiële, finansiële, regs- en sosiale implikasies, asook die impak op die nasionale kragnetwerk.

Die ekonomiese lewensvatbaarheid van alternatiewe soos kernkrag en hernieubare energie is ook bekyk.

Sy studie het bevind hy sal byna R40 miljard moet opdok aan eise en boetes. Dit verwys na kontraktuele verpligtinge met verskaffers en kontrakteurs wat verbreek sal moet word.

Maar dan sal nog R100 miljard se koste aangegaan moet word “om die bates op die regulatoriese bate-grondslag af te skryf”. Die gepaardgaande lening sal onmiddellik aan die uitleners terugbetaal moet word, wat Eskom se skuldverhouding, ekwiteit en alle ander belangrike finansiële aanwysers wesenlik sal raak, het Eskom in sy jaarverslag geskryf.

Volgens Eskom is dit ekonomies sinvoller om die twee kragstasies te voltooi. Tot 89% van Medupi se begroting van R145 miljard is al bestee, en die kragstasie is 95% klaar.

By Kusile is 87% van sy begroting van R161 miljard al bestee, en die bouwerk is 87% klaar.

As bouwerk gestaak word, sal die negatiewe maatskaplik-ekonomiese invloed op die plaaslike gemeenskappe tot groot onstabiliteit lei, want die projekte het tot werkskepping en sakegeleenthede gelei, sê Eskom.

Sowat R36 miljard van die twee kragstasies se begrotings moet nog bestee word. Vier van die agt oorblywende kragopwekkingseenhede van 3 188 MW sal teen die einde van die lopende boekjaar kommersieel in bedryf wees, en die ander sal in onderskeidelik 2021 en 2023 in bedryf kom.

Dit sal Eskom R7,2 miljard kos om die foute by die kragstasies reg te stel.

Die noodsaak om Kusile en Medupi wel te voltooi, word onderstreep deur die feit dat 14 bestaande kragopwekkingseenhede by ou kragstasies oor die volgende vyf jaar gesluit sal moet word. Dit verteenwoordig 4 772 MW se kragopwekkingsvermoë.

Dringende nuwe kragopwekking is dus nodig om die gaping te vul as die ou eenhede afgeskakel word. Dit sal ook die druk verlig op ander ou eenhede wat nog bedryf word, maar wat kritieke instandhouding benodig.

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Kusile  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.