Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Buurlande skuld meer as R600 m. aan Eskom – Pravin

Terwyl die sukkelende Eskom deur reddingsboeie van die regering aan die lewe gehou word én Suid-Afrikaanse verbruikers aan voortdurende beurtkrag onderwerp word, skuld verskeie buurlande Eskom meer as R600 miljoen.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Daily Sun

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het dié syfer onthul in ’n parlementêre antwoord wat Donderdag deur die parlement uitgereik is.

Denis Joseph, ’n DA-LP, wou onder meer by hom weet aan watter lande en buitelandse maatskappye Eskom elektrisiteit verskaf en of enige van daardie lande of maatskappye enige agterstallige skuld aan Eskom het.

Luidens Gordhan se antwoord het Eskom op 19 September vanjaar ook elektrisiteit aan tien internasionale regerings en maatskappye gelewer.

Volgens hom skuld drie buurlande se elektrisiteitsverskaffers Eskom tans gesamentlik R632 miljoen. Die Zimbabwiese kragowerheid (Zesa) se uitstaande skuld is die meeste, op R322 miljoen.

Gordhan sê dit is omdat Zimbabwe weens sy politieke probleme ook ekonomiese probleme ondervind. Hy sê Zesa betaal tans die skuld af ingevolge ’n terugbetalingsooreenkoms.

Verder skuld Mosambiek se elektrisiteitsverskaffer, Electricidade de Mocambique, Eskom R221 miljoen, wat hy weens “finansiële beperkinge” ook nie kan betaal nie. Ook hier geld ’n terugbetalingsooreenkoms.

Dan word Eskom ook R89 miljoen geskuld deur die Zambiese elektrisiteitsverskaffer, Zesco. “Ekonomiese probleme” in Zambië verhoed ook dat dié land sy Eskom-skuld betaal, sê Gordhan. Daar word nog aan ’n terugbetalingsooreenkoms met Zesco gewerk.

Volgens Gordhan is daar geen dispuut met hierdie lande dat die geld wel aan Eskom verskuldig is nie.

Gordhan het dit duidelik gemaak dat hierdie gesamentlike uitstaande skuld van die buurlande net “minimaal” kan help met Eskom se kontantvloeiprobleme.

Volgens hom sal Eskom egter verseker dat toekomstige kontrakte met internasionale kliënte so opgestel word dat dit die opeenhoping van skuld verhoed.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, sê in reaksie hierop dit is “ondenkbaar dat Eskom gewillig is om Suid-Afrikaners gyselaar te hou met beurtkrag terwyl hy elektrisiteit verskaf aan ander lande wat nie eens daarvoor betaal nie”.

’n Halfmiljardrand is ’n verstommende bedrag geld en kan op lang termyn help om Eskom se finansiële ellende te stabiliseer.

“Met dreigende beurtkrag alomteenwoordig, moet Eskom eers sy verpligtinge tuis nakom voordat hy eens daaraan kan dink om homself so dun te smeer deur elektrisiteit aan ander lande te verskaf.”

Mazzone sê hoewel Gordhan meen die uitstaande skuld van buurlande het ’n minimale impak op Eskom se kontantvloei, “is die werklikheid dat elke sent tel as Eskom self ’n berg skuld het van meer as R420 miljard”.

“ ’n Halfmiljardrand is ’n verstommende bedrag geld en kan op lang termyn help om Eskom se finansiële ellende te stabiliseer.”

Volgens haar gaan die DA aan Gordhan skryf om die terugbetalingsooreenkomste wat Eskom met bogenoemde lande het, openbaar te maak.

Sy sê benewens bogenoemde skuld, skuld plaaslike munisipaliteite Eskom byna R20 miljard.

Sy meen dit is duidelik dat Eskom nie in staat is om hierdie plaaslike en internasionale skuld in te vorder nie. En as Eskom nie dié geld kry nie, sal Suid-Afrikaanse belastingbetalers moet aanhou om reddingsboeie aan Eskom te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.