Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cosatu dring aan op ‘reiniging’ van Eskom

Die vakverbond Cosatu is oortuig daarvan dat Eskom doelbewus wanbestuur word sodat dié kragverskaffer gedwing word om te privatiseer.

Eskom se Kriel-kragstasie waar honderde vragmotors daagliks heen en weer ry om steenkool te vervoer.

Daarom het Cosatu in ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is daarop aangedring dat al die kragreus se direkteure en bestuurders summier afgedank word.

“Cosatu dring daarop aan dat sowel die senior bestuurders as Eskom se direksie onmiddellik verwyder moet word omdat hulle ná twee jaar aan die stuur nog niks uitgerig het nie. Die situasie het, inteendeel, vererger,” lui die verklaring.

Dit volg nadat Eskom onlangs ’n netto verlies van R21 miljard vir die jaar aangekondig het en aangedui het dat hy in die volgende jaar ’n verdere verlies van R20 miljard gaan ly.

Die vakverbond sê die ineenstorting van Eskom word “bekook” om die regering en private sektor se plan om die kragreus in drie te verdeel deur te voer met die oog op uiteindelike privatisering.

Cosatu het al verskeie kere sy teenkanting teen die ontknoping van Eskom te kenne gegee, veral omdat dit veronderstel is om gepaard te gaan met ’n grootskaalse verkleining van Eskom se enorme werkmag.

“Baie in die regering en in die private sektor stel nie meer daarin belang om staatsondernemings te red nie, en hul minagting vir staatsbeheerde entiteite is duidelik vir almal om te sien.

“Die onwettige aanstelling van Jabu Mabuza as voorsitter én uitvoerende hoof is ’n voorbeeld van dít wat verkeerd is met die regering se pogings om Eskom reg te ruk,” sê Cosatu.

Hy sê daar is ook geen manier dat die leierskap van Eskom sy planne om die kragreus reg te ruk kan uitvoer nie. Dit sluit in om miljarde rande se uitstaande skuld van regeringsdepartemente, munisipaliteite, gemeenskappe en ander wanbetalers in te vorder.

Cosatu eis dat Eskom “gereinig” word en van sy eise sluit in dat al Eskom se uitgawes geoudit word, veral sy steenkoolkontrakte.

“Almal wat geplunder het, moet deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gearresteer word, deur die nasionale vervolgingsgesag vervolg word en lewenslank in ons tronke toegesluit word.

“Die gesteelde bates moet aan die staat terugbesorg word. As die leierskap van ons wetstoepassingsagentskappe nie ’n plan het om dié misdadigers aan die pen te laat ry nie, moet die president hulle ook verwyder en mense aanstel wat wel die moed het om dit te doen.”

Meer oor:  Cosatu  |  Eskom  |  Kragkrisis  |  Omkeerplan  |  Privatisering  |  Vakbonde  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.