
Sasol het 'n vreeslike toename in die getal gevalle van Covid-19 onder sy werknemers gesien. Foto: Argief
Sasol is bekommerd oor die skerp styging in Covid-19-gevalle in die maatskappy, wat “potensieel op kort termyn ons bedrywighede kan beïnvloed”.
Twee Sasol-werknemers is reeds aan die virussiekte dood en 774 werknemers het die siekte opgedoen, die meeste van hulle in Suid-Afrika. Dis nagenoeg 2,5% van die maatskappy se wêreldwye arbeidsmag van meer as 30 000 mense.
Die meeste van die positiewe gevalle is in Julie aangemeld. Teen 30 Junie het die maatskappy nog net 30 positiewe gevalle gehad, maar teen 22 Julie het dit tot 774 opgeskiet, volgens inligting wat die maatskappy Donderdagoggend uitgereik het.
Sasol sê tot dusver het die infeksies nie ’n wesentlike impak op sy bedrywighede gehad nie, maar hy is tog bekommerd.
“Hoewel ons alle vereistes ingevolge regulasies en die nodige beheermaatreëls in werking gestel het, sal ons aanhou om die impak aktief te monitor en te versag.”
Brandstofverkope
Sasol sê verkope van vloeibare brandstowwe en aardgas het in sy boekjaar tot einde Junie met onderskeidelik 12% en 8% gedaal weens die laer vraag na brandstof gedurende die inperking. Die maatskappy sê wel die vraag het vinniger herstel as wat verwag is nadat inperkingsmaatreëls verlig is.
Lake Charles
Sasol sê die laaste eenheid van die Lake Charles- chemiese aanleg behoort teen einde Oktober weer aangeskakel te word. Dié eenheid, ’n laedigtheidspoliëtileenaanleg, is in Januarie in ’n brand beskadig – een van vele krisisse by dié projek in Louisiana in die VSA.
Sasol sê “uitdagings” wat beleef is, beteken sy vorige teiken vir die herstelwerk, voor einde September, sal nie gehaal word nie.
Die projek kos Sasol nou reeds $12,7 miljard. Sasol maak egter nog geen inligting bekend oor die vordering om vennote in die projek te kry nie. Die maatskappy is besig om bates te verkoop en vennote te probeer betrek in ’n poging om die maatskappy se skuldlas te verlig.
Aan die kern van die projek is ’n etaan-kraakdistilleerder wat 1,5 miljoen etileen per jaar sal produseer, en dan ses chemiese vervaardigingsaanlegte wat die etileen verwerk. Etileen word veral gebruik om poliëtileen mee te maak. Poliëtileen word gebruik om onder meer plastiek waarin kos verpak word, te vervaardig.
Sasol gaan eersdaags ’n handelsverklaring oor sy boekjaar tot einde Junie uitreik.