Die vlaag beurtkrag wat Eskom in die land toepas, het as “ ’n skok” gekom en hy is “kwaad” omdat die nasionale kragverskaffer dié vlak van disfunksionaliteit bereik het, het pres. Cyril Ramaphosa Maandag gesê.
Ramaphosa het in ’n onderhoud by die 32ste Afrika-Unie-beraad vir staatshoofde erken dat Suid-Afrikaners “ ’n gevaarsone” betree en dat dit is hoekom Eskom in drie eenhede verdeel word soos hy verlede week in die staatsrede in Kaapstad aangekondig het.
“Ek is kwaad omdat ons dié vlak van disfunksionaliteit bereik het. Die minister van openbare ondernemings (Pravin Gordhan) gee saam met die Eskom-raad aandag aan dié kwessie,” het Ramaphosa oor die fase 4-beurtkrag wat geld, gesê.
“Ons het al ons eiers om energie te verskaf in een mandjie gesit. Wanneer die nasionale kragverskaffer aankondig al ses eenhede is buite werking, beteken dit dat al ses die eiers gebreek het.”
Ramaphosa het die behoefte aan ’n nuwe sakemodel vir Eskom benadruk en bygevoeg dat die risiko vir soortgelyke scenario’s in die toekoms geminimaliseer moet word.