Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cyril: Moody’s sal tevrede wees met Eskom-plan

’n Plan vir Eskom se skuld gaan “binne dae” bekend gemaak word.

Pres. Cyril Ramaphosa was Maandagoggend in Londen die hoofspreker op die sesde Afrika-beraad van The Financial Times. Foto: Twitter

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag dié aankondiging gemaak waar hy die hooftoespraak gelewer het op die Financial Times Africa Summit in Londen.

Fin24 berig Ramaphosa sê hy hoop Moody’s Investors Service, die laaste van die groot kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika se skuld nog op beleggingsgraad gradeer, kennis daarvan sal neem.

“Ek dink Moody’s en ander sal tevrede wees met wat ons gaan aankondig.”

Eskom het ’n skuldlas van meer as R450 miljard, hoofsaaklik weens die wegholkoste van die konstruksie van die nuwe mega-steenkoolkragstasies Medupi en Kusile, asook Eskom se afhanklikheid van peperduur korttermyn- steenkoolkontrakte.

Eskom se inkomste dek nie eens die rente op sy skuld nie. Sy aansoek vir hoër kragtariewe om die werklike koste van kragopwekking te weerspieël, is deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) afgekeur, maar Eskom neem Nersa nou hof toe vir ’n hersiening van die besluit.

LEES OOK: Prysskok vir krag wag as Eskom se aansoek slaag

Volgens Ramaphosa werk die regering aan “innoverende idees” om Eskom se skuldkrisis op te los.

Wat gebeur vandeesmaand by Eskom?

1. Nuwe uitvoerende hoof

Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof en voorsitter van Eskom, het vroeër gesê ’n permanente hoof sal voor die einde Oktober bekend gemaak word. Mabuza beklee die pos  sedert Phakamani Hadebe, voormalige uitvoerende hoof, in Julie bedank het weens gesondheidsprobleme. Van die mense op die kortlys vir die pos is Andy Calitz, voormalige uitvoerende hoof van LNG Canada, en Jacob Maroga, wat van 2007 tot 2009 Eskom se uitvoerende hoof was.

2. Nuwe beleidsdokument

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sien tans toe oor die afhandeling van ’n beleidsdokument wat uiteen sal sit hoe Eskom omgekeer gaan word. Dit sal ook uiteensit hoe Eskom in drie dele verdeel gaan word. Dié dokument sal na verwagting vandeesweek aan die kabinet oorhandig word met die oog om dit teen die einde van Oktober te publiseer.

3. Herstrukturering van skuld

Freeman Nomvalo, herstruktureringshoof van Eskom en hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), sou teen die einde van September sy plan om Eskom se skuld te herstruktureer aan die kabinet oorhandig het. Bloomberg berig daar is nog nie weer inligting hieroor bekend gemaak nie. Maar een van vier idees wat oorweeg is, was om die meeste van Eskom se skuld na die staat se balansstaat te verskuif.

4. Die kragplan

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) gaan binnekort deur die kabinet goedgekeur en dan in die Staatskoerant gepubliseer word, het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, verlede week gesê. Die plan sal wys hoe Suid-Afrika hernubare-, steenkool-, en kernkrag sal inspan om te voldoen aan sy elektrisiteitsbehoeftes.

5. Die MTBR

Tito Mboweni, minister van finansies, sal tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) op 30 Oktober uiteensit hoe die reddingsboeie aan Eskom uit die beleërde begroting gefinansier sal word. Die staat het reeds R128 miljard se ondersteuning aan Eskom oor die volgende drie jaar belowe. Mboweni het al klaar aangedui dat ander departemente drasties koste sal moet besnoei.

Meer oor:  Eskom  |  Mtbr  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Omkeerplan  |  Reddingsboei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.