Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cyril-plan vir investering: Kwart moet uit energie kom

Die energiesektor moet na regte minstens ’n kwart oplewer van die $100 miljard se buitelandse beleggings wat pres. Cyril Ramaphosa wil lok, het Jeff Radebe, minister van energie, Woensdag gesê.

Jeff Radebe, minister van energie. Foto: Jabu Kumalo

Radebe, ook waarnemende president terwyl Ramaphosa in die buiteland is, het voor sy begrotingsposdebat Woensdag op ’n mediakonferensie gesê hy beskou die R56 miljard se beleggings wat deur die 27 nuwe groenkragprojekte gelok word, as deel van die $25 miljard wat die energiesektor sal lok.

Ander beleggings sluit in die ontwikkeling van Suid-Afrika se skaliegasbronne, die nuwe beoogde olieraffinadery en die opgradering van bestaande olieraffinaderye.

Radebe sê daar word reeds met die groot oliemaatskappye oor ’n nuwe raffinadery gepraat en hy hoop daar sal teen September konsensus wees daaroor.

Hy twyfel nie oor die ontwikkeling van Suid-Afrika se skaliegasbronne nie, en gaan met Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, daaroor saamwerk.

Radebe het weer belowe die hersiene geïntegreerde hulpbronplan sal vir openbare kommentaar heropen word sodat dit teen Augustus afgehandel kan wees. Dit sal sekerheid en vertroue gee in die energiesektor.

Radebe sê kernkrag is steeds deel van Suid-Afrika se energiemengsel, en die hulpbronplan sal meer duidelikheid gee hieroor. Hy het eers oor kernkrag gepraat nadat ’n joernalis daaroor uitgevra het.

Die regering se plan vir ’n nuwe olieraffinadery is volgens Radebe nodig, want bestaande raffinaderye kan nie die jongste gehalte skoon brandstof lewer wat moderne voertuie benodig nie.

Suid-Afrika en Mosambiek kan beter saamwerk om Mosambiek se aardgasbronne te benut, en amptenare sal voor einde Mei vergader om ’n gesamentlike program te ontwikkel om die benutting van die gas te verbeter deur albei lande.

Die reuse-vondse van aardgas in die Rovuma-kom aan die kus van Mosambiek bied Suid-Afrika die geleentheid om betrokke te raak met waardetoevoeging tot Mosambiek se aardgasbronne, wat ’n gas-tot-brandstofaanleg kan insluit.

Radebe sê sy departement sal binnekort ’n omdraaiplan gereed hê vir die Sentrale Energiefonds-groep, met spesifieke klem op die staatsbeheerde brandstofmaatskappy PetroSA.

Hy wil sorg dat PetroSA se projekte betyds en binne begroting voltooi word en dat die maatskappy weer winsgewend word.

Meer oor:  Sentrale Energiefonds  |  Petrosa  |  Eskom  |  Jeff Radebe  |  Krag  |  Brandstof  |  Kernkrag  |  Staatsondernemings  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.