Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cyril: ‘Sabotasie dra by tot beurtkrag’

Sabotasie by een van Eskom se kragstasies was een van die groot redes vir die huidige vlaag beurtkrag wat Suid-Afrika geteister het.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Simon Sonnekus

Pres. Cyril Ramaphosa het dit Woensdag by Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg, onthul.

“Eskom kan bewys dat iemand toestelle ontkoppel het wat daartoe gelei het dat twee stoomketels nie verder krag kon opwek nie,” sê hy.

Ramaphosa sê dié sabotasie het daartoe gelei dat 2 000 MW se opwekkingsvermoë verlore gegaan het.

“Ons moet die sabotasie ondersoek. Daar moet saam met die polisiediens gewerk word en daar moet uitgevind word hoe enige persoon daartoe in staat was om toerusting te ontkoppel wat tot die verlies van 2 000 MW gelei het.

“Ons wil ook hê dat die veiligheidsmaatreëls onmiddellik verhoog word.

"Niemand moet die geleentheid kan hê om stelsels te saboteer nie."

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het bevestig dit was by die Tutuka-kragstasie.

Die “ons” na wie Ramaphosa verwys, is adj.pres. David Mabuza, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Dié vier het Woensdag vir sowat vier uur saam met die direksie van Eskom vergader om uit te vind wat het tot die vlaag beurtkrag gelei, en wat in die toekoms gedoen gaan word.

Ramaphosa sê hoewel sabotasie van 2 000 MW nie op sy eie tot die vlaag beurtkrag sou lei nie, het dit ’n beduidende rol gespeel omdat Eskom reeds gesukkel het om die ligte aan te hou.

“Dit kan net as sabotasie geklassifiseer word. Enige persoon wat aspris gaan en toestelle ontkoppel, kan net van sabotasie beskuldig word.”

Ramaphosa sê dat regstappe gedoen sal word teen enige persoon wat skuldig bevind word aan sabotasie.

Ramaphosa sê buiten vir die probleem van sabotasie, het Eskom ook verduidelik hoe die swaar reën en ander probleme wat by kragstasies ervaar is, tot beurtkrag bygedra het.

Bestuur

Ramaphosa sê hy verwag alle werknemers by Eskom moet aanspreeklikheid vir hul aksies aanvaar.

“Ons het egter ook die gevoel gekry dat Eskom se bestuur nie met die nodige dringendheid opgetree het nie.

“Daar moet meer dringendheid wees in wat hulle doen.

“Hulle moet verwag dat sekere probleme kon opduik.

“Ons voel daar moet op bestuursvlak meer aanspreeklikheid wees.

“Mense moet eienaarskap neem van wat hulle doen.

“Die bestuur moet baie meer proaktief wees,” sê hy.

Ramaphosa sê as deel daarvan om te verseker dat die ligte oor Kersfees sal aanbly, is alle verlof van die bestuur by Eskom gekanselleer.

Kapasiteit

Net soos wat Oberholzer vroeër Woensdag aan Netwerk24 gesê het, het Ramaphosa herhaal dat Eskom dit duidelik gestel het dat die kragreus 5 000 MW se addisionele kapasiteit nodig het om die netwerk te stabiliseer.

Ramaphosa sê verskeie opsies word oorweeg.

“Een daarvan is drywende kragopwekkers op skepe in hawens. As ons sou vind dit is doenbaar, sal ons dit oorweeg,” sê Ramaphosa.

Hy het na die staat se geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) verwys as ’n manier hoe addisionele kapasiteit verkry kan word.

Op die vraag oor wat die staat regtig gedoen het om meer kapasiteit in die praktyk te skep het Ramaphosa na Medupi en Kusile verwys.

“Ons het Medupi en Kusile gebou. Hoewel dit lank gevat en baie gekos het, gaan dit die netwerk baie meer robuus maak,” sê Ramaphosa.

“Ons het egter besef dat ons ander bronne van energie moet gebruik. Ons is ’n leier in Afrika wat betref hernubare energie.

“Daar is ’n duidelike voorstel op die tafel van veral die private sektor wat hul eie krag wil opwek.

“Dit is nou ’n kwessie wat ons Vrydag met die kabinet sal bespreek.

“ ’n Besluit wat daaruit sal kom, kan daartoe lei dat ons toenemende kapasiteit kan kry,” sê Ramaphosa.

Gordhan en Mantashe sal Vrydag ’n voorstel aan die kabinet lewer oor die moontlikheid dat private instansies toegelaat sal word om self krag op te wek.

Noodherstelplan

Een van die eerste goed wat Ramaphosa die direksie van Eskom aangesê het om te doen, is om ’n noodherstelplan op te stel.

Hy sê Eskom het hom verseker daar sal van 17 Desember tot 13 Januarie geen beurtkrag wees nie.

“Alles moontlik sal gedoen word om selfs daarna te verseker dat beurtkrag nie weer ingestel word nie,” sê hy.

Ramaphosa het Suid-Afrikaners die versekering gegee dat die staat ’n ysterhand oor bedrywighede hou om te verseker die ligte sal aanbly.

* Theo Venter, politieke ontleder, meen dat sabotasie wat as rede vir beutrkrag deur Ramaphosa voorgehou is, 'n flou verskoning is.

 “Met so groot stelsel soos Eskom, kan 'n skakel nie 'n hele stelsel in die gedrang bring nie,” sê Venter.Hy sê hy is skepties oor die ‘sabotasie’. 

Venter sê sabotasie kan twee betekenisse hê. Sabotasie kan beteken iemand word beskuldig dat hulle die staat in gevaar stel, 'n voorbeeld sou wees 'n bomdreigiment. 'n Breë definisie is wanneer dit met politieke optrede verband hou.Venter sê dus is die argument van sabotasie nie waar nie. 

Wat egter 'n rol gespeel het is gebrekkige instandhouding die afgelope 10 jaar, weerpatrone en die buitengewone seisoenale weersomstandighede.

Hy sê beurtkrag is geweldig nadelig vir die land, maar daar is een positiewe aspek.

 “Cyril het vir die tweede keer 'n buitelandse besoek afgestel. Hy kan die erns van die saak sien,” sê Venter.

Meer oor:  Eskom  |  Sabotasie  |  Beurtkrag  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.