Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cyril se Eskom-plan 'kan nie als regmaak nie'

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede dui op beleid wat ’n verdere kwyning van ekonomiese groei sal afweer, maar die plan om Eskom en die ekonomie te red sal nie almal paai nie.

Moody’s Investors Service is die wêreld se grootste kredietgradeerder. Op die foto is sy hoofkantoor in New York, Amerika. Foto: Getty Images

Só meen Lucie Villa, Moody’s Investors Service se hoofontleder vir Afrika suid van die Sahara. Die kredietgradeerder het Maandag in ’n nota sy mening oor die staatsrede en ook die impak van die situasie by Eskom gegee.

Volgens Villa is die Suid-Afrikaanse regering se doelwitte baie breed, maar wel genoeg om beleggers te paai en vir die sakewêreld te wys die land is daartoe verbind om hervormingspogings voort te sit.

Ongelukkig was dit nie heeltemal genoeg nie, meen Moody’s.

“Afgesien van baie wye voorstelle om finansiële spanning by Eskom te verminder, het die toespraak min konkrete maatreëls gebied om hierdie strukturele uitdagings te oorkom in die lig van baie gevestigde belange,” sê Villa.

Ramaphosa se aankondiging dat die regering in die begrotingsrede (20 Februarie) sal bekend maak hoe die staat Eskom finansieel gaan ondersteun terwyl hy in drie gedeel word, is volgens Moody’s uitstekende stappe, maar sê eintlik min oor die staatsonderneming se finansiële volhoubaarheid.

“Dié stappe maak die deur oop vir ’n meer deursigtige maatskappy met duideliker toegewysde inkomste en koste tussen sakesegmente. Dit sal die oorgang van die sektor fasiliteer aangesien dit nuwe energiebronne ontwikkel. “Dit is egter op sy eie te min om Eskom se finansiële uitdagings die hoof te bied,” sê Villa.

Moody’s is die enigste kredietgradeerder wat steeds die land se staatskuld op beleggingsgraad gradeer.

Eskom se totale skuld beloop tans sowat R420 miljard, wat 8,5% van die land se bruto binnelandse produk is. Van dié skuld het die staat reeds amper R260 miljard gewaarborg, wat ’n negatiewe impak op die staat se kredietwaardigheid het.

Moody’s is die enigste kredietgradeerder wat steeds die land se staatskuld op beleggingsgraad gradeer.

Volgens Moody’s is daar twee maniere waarop die staat die finansiële gesondheid van Eskom kan benader, maar net een sal ’n neutrale uitwerking op die land se kredietwaardigheid hê.

As die staat verdere finansiële ondersteuning regstreeks aan Eskom bied – wat Moody’s al telkens aangedui het waarskynlik noodsaaklik sal wees – sal dit slegs ’n neutrale uitwerking op soewereine kredietwaardigheid hê as dit gepaardgaan met langtermynstappe om Eskom finansieel volhoubaar te maak.

Die stappe om broodnodige kostebesparings en hoër inkomste te bewerkstellig, sal ongewild wees, meen Moody’s. Dit sluit in hoër tariewe vir krag, afleggings en ander stappe wat sowel verbruikers as vakbonde sal ontstel. Dus, as die staat eers finansiële ondersteuning bied en stappe doen wat eers later besparings sal bewerkstellig ten einde verskeie belanghebbendes te paai, sal die uitwerking uiters negatief wees op die land se kredietwaardigheid.

Nog iets wat ’n groot uitwerking sal hê op Eskom, en dus die land as geheel, is die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit in Maart oor Eskom se aansoek vir hoër tariewe.

Hy vra tans ’n styging van tussen 15,4% en 17,1% per jaar oor die volgende drie jaar.

Moody’s meen dié tariewe sal noodsaaklike ondersteuning aan Eskom bied, wat dus ook minder druk sal plaas op staatskuld en beter kragtoevoer aan die land sal kan bied – albei noodsaaklike ekonomiese faktore. Die koste van dié besluit sou wel wees dat inflasie skerp styg en verbruikersvertroue verder kwyn.

Aan die ander kant, as dié tariewe nie goedgekeur word nie, of die verhogings aansienlik verklein word, sal die staat die las moet dra, en die vooruitsigte van die kragreus sou aansienlik verswak – wat ook druk op die ekonomie sou plaas, maar net van ’n ander rigting af.

“Pogings om die ekonomie te laat herleef en sosio-ekonomiese ongelykhede te takel, sal bydra tot die druk op staatsbesteding, wat die uitdagende balans tussen ekonomiese doelwitte en fiskale dissipline beklemtoon. Moody’s het reeds ná die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober hierop gewys,” sê Villa.

Moody’s meen dié stappe sal waarskynlik die langtermyndaling in Suid-Afrika se groeipotensiaal stuit, maar hy verwag nie ’n noemenswaardige versnelling in groei oor die volgende paar jaar nie.

Meer oor:  Nersa  |  Moody's  |  Eskom  |  Staatsrede 2019  |  Cyril Ramaphosa  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.