Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Cyril teken vir sonkrag; Eskom wis niks

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n ooreenkoms met Saoedi-Arabië om sonpanele ter waarde van R12 miljard hier te kom oprig, maar Eskom – wat die krag moet koop – sê hulle het niks hiervan geweet nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en Salman bin Abdoelaziz al Saoed, koning van Saoedi-Arabië. Foto: Getty Images

Ramaphosa het die ooreenkoms verlede week onder groot fanfare geteken toe hy daar vir ’n ampsbesoek was. Hy probeer om $100 miljard se nuwe beleggings in die volgende vyf jaar te lok.

Die president word algemeen beskou as ’n voorstander van groenkrag en hy was ’n hooffiguur om te verseker Eskom koop meer groenkrag. Dié kragreus het vasgeskop omdat hy sê hy kan nie duur hernubare krag bekostig nie en het tans ’n oorskot krag.

Hoewel die fynskrif van Rama­phosa se ooreenkoms in die Midde-Ooste nog vaag is, sal die Saoedi-Arabiese energiemaatskappy Acwa Power ’n groot rolspeler wees.

Acwa Power het ’n beleggingsooreenkoms met Suid-Afrika se Sentrale Energiefonds onderteken en Ramaphosa het die seremonie bygewoon.

Dié maatskappy spesialiseer in gekonsentreerde sonkrag-tegnologie en het reeds hierin begin belê in Suid-Afrika.

Die betrokke tegnologie verskil van fotovoltaïese sonkrag. ’n Toring wat omring word met sonpanele konsentreer die sonkrag en maak gebruik van verhitte sout onder die sonpanele om energie te stoor.

Met dié tegnologie word gehoop om ’n volhoubare manier te vind om sonkrag te stoor vir gebruik wanneer die son nie skyn nie. Maar dit is ook nog die heel duurste groen krag wat beskikbaar is.

Windkrag se prys het in die vier rondes van groenkrag-aankope van Eskom met 56% gedaal. Dit was R1,60/kW in die eerste ronde en R0,70/kW in die vierde ronde.

Fotovoltaïese krag se prys het met 74% verminder van R3,80/MW tot R1,00/MW.

Gekonsentreerde sonkrag se koste het net met 5% gedaal, van R3,90/MW tot R3,70/MW.

Die meeste van die kontrakte wat die departement van energie met onafhanklike kragprodusente onderteken het, is vir sonkrag. Foto: Argief

Aangesien Eskom die enigste kragverspreider in die land is, is hy ook die enigste koper van groenkragprojekte wat Ramaphosa onderhandel het.

’n Eskom-woordvoerder het egter aan Rapport gesê dié ooreenkoms was vir hulle nuus.

“In die algemeen word Eskom oor die groenkrag-aankopeprogram geraadpleeg, en die direksie neem dan die finale besluit. Ons is egter nie geraadpleeg oor besluite van Saoedi-Arabië nie. In elk geval kan nuwe beleggings slegs gemaak word deur ’n suksesvolle bod in die aankopeprogram.”

Die woordvoerder sê ook baie werk sal eers gedoen moet word om gekonsentreerde sonkrag meer bekostigbaar te maak.

Volgens Acwa Power is die eerste projek wat deel is van die handelsooreenkoms die gekonsentreerde sonkragaanleg Redstone in die Noord-Kaap.

Konstruksie aan die projek behoort later vanjaar te begin, sê hy.

Acwa Power is ’n 50%-aandeelhouer in die Redstone-sonkragprojek, wat een van die 27 projekte is wat vroeër vanjaar kontrakte met Eskom gesluit het.

Acwa se baas, Paddy Padmanathan, het baie druk op die regering toegepas toe Eskom geweier het om aankoopooreenkomste met die suksesvolle onafhanklike kragopwekkers van ronde 4 te sluit. Eskom het die Redstone-projek destyds uitgesonder as een van die redes hoekom hy nie die ooreenkomste met die kragopwekkers wou onderteken nie.

Redstone se kragaankoopkoste vir Eskom het glo gestyg van R50 miljard tot R60 miljard vir die kontraktydperk van 20 jaar. Eskom het gesê dis ’n “verkwistende uitgawe”.

Voor die storm het Acwa aangedui dat hy ’n portefeulje van 5 000 MW krag teen 2025 in Suider-Afrika wil ontwikkel.

Behalwe vir Redstone is Acwa ook betrokke by die Bokpoort- gekonsentreerde sonkragaanleg van 50 MW naby Groblershoop in die Noord-Kaap. Acwa se plaaslike konsortium Acwa Power SolAfrica het ’n 40%-belang in dié projek.

Nog ’n Acwa Power-konsortium het twee jaar gelede ’n suksesvolle bod ingedien om een van twee steenkoolstasies wat nié deur Eskom bedryf sal word nie, te bou.

Die 306 MW-Khanyisa-kragstasie word egter deur omgewingsgroepe teengestaan.

Die departement van energie het nie op vrae gereageer nie.

Meer oor:  Eskom  |  Cyril Rama­Phosa  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Sonkrag  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.