Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
DA kry teenkanting oor wetsontwerp oor krag
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Elvira Wood

Die DA se privateledewetsontwerp om goedkoper elektrisiteit te verseker, het Dinsdag groot teenkanting uit talle oorde gekry op ’n parlementêre komiteesitting.

Die portefeuljekomitees oor minerale bronne en energie en openbare ondernemings het ’n gesamentlike sitting gehou waartydens hulle die Wetsontwerp op die Onafhanklike Elektrisiteitsbestuursoperateur (IEMO) bespreek het.

Natasha Mazzone, DA-LP, het dié wetsontwerp reeds op 24 Oktober 2019 aan die parlement voorgelê.

Sy het vroeër verduidelik die wetsontwerp is daarop gemik om Eskom se monopolie te verbreek wat betref die opwekking van elektrisiteit.

Ingevolge daarvan moet ’n private maatskappy, die IEMO, tot stand gebring word.

LEES OOK: Private kragopwekking kry wind van voor in parlement

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in sy voorlegging aan die komitees gesê buiten dat daar teenstrydighede in die wetsontwerp is, steun die departement ook nie die voorstel van die IEMO nie. As dit geskep sou word, beteken dit dat Eskom in geheel privatiseer moet word.

Gordhan sê dat die staat veral nie die transmissie-afdeling van Eskom sal privatiseer nie.

Een van die teenstrydighede waarna Gordhan verwys, is dat hoewel die DA sê die IEMO moet heeltemal onafhanklik wees en dat die staat geen belang daarin moet besit nie, is daar die vereiste dat die minister van openbare ondernemings die memorandum van inkorporasie van die IEMO moet onderteken.

Gordhan wil weet hoe dit kan gebeur as die staat volgens dié wetgewing nie toegelaat word om ’n aandeelhouer te wees nie.

Hy wil ook weet hoe werk dit dat daar van die staat verwag word om ’n enorme bate – die land se kragnetwerk – sonder enige vergoeding aan ’n private maatskappy oor te dra. Die DA maak juis dié voorstel in die wetsontwerp.

Nog ’n argument was ook dat die DA net die rykes wil help, en dat ’n private maatskappy nie op arm, landelike gebiede gaan fokus nie.

Gordhan sê wat die DA nie in die wetsontwerp in ag neem nie, is die ontknoping van Eskom. Hy sê dié proses vorder goed en dat daar binnekort nuwe sperdatums bekend gemaak gaan word oor wanneer die kragreus in drie afdelings ontknoop gaan word.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het op 11 Augustus gesê Eskom wil sy aandeelhouer, die staat, nader om te hoor of die proses versnel kan word.

Eskom sê in ’n antwoord op vrae wat Netwerk24 hieroor gerig het, hy oorweeg planne oor hoe die nuwe transmissie-afdeling dieselfde IT- en ander ondersteuningstelsels as die res van Eskom kan gebruik, selfs ná die ontknoping.

Eskom verduidelik sou ’n aparte stelsel vir die transmissie-afdeling ontwikkel moes word, dit nie net die ontknoping tot minstens Maart 2022 kan vertraag nie, maar dit sal ook baie duur wees.

LEES OOK: IT-stelsel kinkel in kabel vir Eskom se ontknoping

Gordhan het die DA se wetsontwerp in die algemeen as “ ’n bietjie van ’n ramp, baie verwarrend en problematies” beskryf.

Hy het met biskop Malusi Mpumlwana, wat die sessie bygewoon het, saamgestem wat sê dat hoewel die DA daarop geregtig is om ’n wetsontwerp op te stel gegrond op sy eie beleid, is dit nie die ANC se beleid om staatsondernemings soos Eskom te privatiseer nie.

Meer oor:  Eskom  |  Pravin Gordhan  |  Energie  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.