Eskom het Maandag nog tot 23:00 beurtkrag toegepas, en dit lyk vir eers asof daar nie Dinsdag beurtkrag gaan wees nie.

Die kragnetwerk is kwesbaar, maar Eskom se reserwes is aangevul. Foto: iStock
iStock
Die nutsmaatskappy sê in ’n verklaring hy kon Maandag daarin slaag om twee opwekkingseenhede by die Kusile-kragstasie, twee by Kriel en een by Tutuka weer aan die kragnetwerk te verbind.
Nog twee eenhede gaan na verwagting Dinsdag aan die netwerk verbind word.
Daarby sê Eskom hy het daarin geslag om sy reserwes vir sy noodkragstasies – dieselkragstasies en wateropgaarskemas – aan te vul.
Die maatskappy se aankondiging kom ondanks die feit dat 4 920 MW se opwekkingsvermoë steeds vir beplande onderhoud afgeskakel is en nóg 13 897 MW weens foute.
Dis ’n enorme 18 817 MW, van die hoogste opwekkingsvermoë wat die land al verloor het. Vantevore sou dit beurtkrag van fase 4 of hoër voorafgegaan het, maar die vraag na krag is laer omdat nie alle kantore en fabrieke al volstoom werk nie.
Eskom bedank Suid-Afrikaners vir hul geduld met die afgelope week se beurtkrag, maar waarsku terselfdertyd dat die stelsel “kwesbaar en onvoorspelbaar” is. Die risiko dat beurtkrag op kort kennisgewing ingestel kan word, bly hoog.