Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
David Mabuza moet waai oor Eskom-korrupsie – DA

Adj.pres. David Mabuza moet opsy staan in pas met die ANC se beleid oor lede teen wie klagte van beweerde korrupsie ondersoek word.

Adj.pres. David Mabuza Foto: Getty Images

So sê die DA nadat dit bekend geword het dat sy liefdadigheidstigting R30 miljoen van Eskom ontvang het.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, het Maandag in ’n verklaring gesê Mabuza moet sy sakke pak nadat ’n opspraakwekkende ondersoek deur News24 bevind het die adjunkpresident is by miljoene rande se korrupsie betrek met die bou van die Kusile-megasteenkoolkragsentrale.

Die geld is in 2016 deur Eskom oorbetaal, maar kom van General Electric (GE). Mabuza was in daardie stadium premier van Mpumalanga, waar Kusile gebou is.

“As die ANC konsekwent is in die toepassing van sy eie besluite, moet hy Mabuza by sy lys van lede voeg wat moet uittree terwyl hulle weens korrupsie ondersoek word.”

Die skenking word tans deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) asook die FBI in Amerika ondersoek aangesien die geld vanaf ’n Amerikaanse maatskappy gekom het.

GE het in 2015 vir Alstom gekoop, wat aanvanklik gekontrakteer is om die turbines van die Kusile-projek ter waarde van R17 miljard te vervaardig en installeer.

Mabuza het die DD Mabuza-stigting in 2014 opgerig.

GE het in 2016 R100 miljoen aan Eskom geskenk vir die nutsmaatskappy se program van korporatiewe maatskaplike beleggings. Dit sou hom blykbaar bemagtigingskrediete gee deur die werk wat die program in plaaslike gemeenskappe doen. Daarvan is R30 miljoen egter “strategies” aan die DD Mabuza-stigting geskenk. Die stigting doen glo gemeenskapswerk.

Frans Sithole, voormalige bestuurder van Eskom en projekbestuurder van Kusile, het dié skenking gedoen.

Sithole het in 2017 bedank. Hy ontken dat hy so ’n skenking gedoen het.

Mabuza en sy stigting ontken ook dat enige geld van GE of Eskom ontvang is.

GE het ook ontken dat hy “regstreeks of onregstreeks” skenkings aan die stigting gemaak het.

Tenders ter waarde van R178,1 miljard wat die afgelope dekade deur Eskom toegeken is, word volgens News24 deur korrupsie besmet.

Trouens, die korrupsie by Eskom is so wydverspreid dat Eskom-bronne, forensiese kundiges en ondersoekers aan News24 gesê het: “Nie Eskom of wetstoepassingsagentskappe het genoeg hulpbronne om die groot netwerk van korrupsie by die maatskappy te hanteer nie.”

Cachalia sê: “Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie gebuk gaan onder volgehoue kragonderbrekings en tot vandag toe nog bedreig word deur beurtkrag, het kapitaalvrate in die ANC en by die staatsonderneming, soos Mabuza, geen skaamte gevoel om die kragvoorsiener op sy knieë te bring deur miljarde te plunder nie.”

Volgens hom is Kusile nog nie ten volle voltooi nie en het swak prestasies by die stasie weer tot ’n onlangse vlaag beurtkrag gelei.

“Boonop is Kusile nog lank nie die enigste kragstasie wat onder die grootskaalse korrupsie by Eskom gely het nie,” sê Cachalia.

“Adj.pres. Mabuza het niks anders gedoen as om belastingbetalers se geld te eet, terwyl baie sukkel om daagliks te oorleef nie. Dit lyk asof hy so vrot en korrup is as wat jy kan kry.”

Meer oor:  General Electric  |  Eskom  |  Kusile  |  David Mabuza  |  Staatskaping  |  Bedrog  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.