Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dawie Roodt: ‘Eskom kan ons weer in resessie druk’
Dawie Roodt

Eskom sit tans nie net Suid-Afrikaners se ligte af nie.

As hy voortgaan om beurtkrag toe te pas, kan dit die ligte van die land se ekonomie ook afskakel.

Die chaos by Eskom kan Suid-Afrika se ekonomie weer in ’n resessie dompel.

Boonop kan dit die kredietgradeerder Moody’s Investors Service oortuig om die land se staatskuld binne die volgende maand tot onder beleggingsgraad, oftewel rommel, af te gradeer.

Dit is Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, se vooruitsig as daar nie drasties plan gemaak word met wat by die kragreus aangaan nie.

Eskom het sedert Sondag elke dag fase 4-beurtkrag vir die grootste deel van die dag ingestel, met fase 2-beurtkrag oornag.

Moody’s is die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog nie Suid-Afrika se skuld tot rommel afgegradeer het nie. Hy het egter kort ná Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede in Februarie gewaarsku dat die staat se planne, veral met Eskom, hom glad nie beïndruk nie.

Lees ook: Moody’s waarsku: Begroting is slegte nuus

Roodt sê as hy ’n ruwe raaiskoot moet maak, kos beurtkrag die ekonomie tans ’n minimum van R2 miljard per dag.

“Maar onthou, dit gaan nie net hier oor fisiese geld nie. Dit gaan oor die skade wat aan beleggings-, sake- en verbruikersvertroue aangerig word. Jy kan dit nie noodwendig in syfers sit nie, maar dit is juis ’n gebrek aan dié vertroue wat die land baie vinnig in ’n resessie kan dompel,” sê hy.

As die huidige vlaag van beurtkrag dus veel langer voortduur gaan dit definitief letsels op die ekonomie – in dié geval ’n resessie – laat.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie was juis tydens 2018 amptelik in ’n resessie.

’n Tegniese resessie word gedefinieer as wanneer daar vir twee agtereenvolgende kwartale negatiewe ekonomiese groei is.

“Ek dink ons is eerder al vir minstens vyf jaar in ’n resessie,” sê Roodt.

“Hoe kan jy sê jou ekonomie groei as jou groeisyfer kleiner is as wat jou fiskale tekort is? As dit die geval is, beteken dit al wat gaan groei is jou staatskuld, want jy moet net meer geld leen om hierdie tekort aan te vul.”

Tans voorspel die staat ekonomiese groei in 2019 gaan 1,5% wees. Die 39 ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, dink dit is ’n optimistiese vooruitsig en het nou in Maart voorspel dit gaan net 1,27% wees.

“Gesien dat die fiskale tekort waarskynlik sowat 4,5% is, beteken dit Suid-Afrika se ekonomie groei net indien dit met méér as dié syfer groei,” sê Roodt.

Lees ook: Ekonoom van die Jaar: Tito bring nie hoop

Roodt het ’n groep entrepreneurs Dinsdagoggend in Randburg, Johannesburg, op ’n ontbytgeselligheid toegespreek wat deur Business Partners aangebied is.

Hy sê dit is alombekend dat die land dit regtig nie kan bekostig dat sy skuldvlakke enigsins verder styg nie.

Hy voorspel die totale staatskuld sal binnekort meer as 80% van bruto binnelandse produk (BBP) beloop.

Teen so ’n vlak is dit, met ekonomiese groei van net meer as 1% per jaar, bykans onmoontlik om die skuldbedrag self te verminder, aangesien die rente betaalbaar op die skuld net al hoe meer word.

Roodt se voorspelling is in pas met sy mede-ekonoom Mike Schüssler van Economists.co.za wat ook onlangs geskryf het dat die land se skuldvlakke tans die hoogste tot nog toe is. Schüssler sê die huidige stand van sake herinner aan die 1980’s toe staatskuld 88% van BBP bereik het.

Lees ook: SA skuld: Die 1980’s is terug

Hoe Roodt en Schüssler dié hoë persentasie bereken, is deur staatskuld op sy eie wat tans sowat 57% van BBP beloop, die totale skuld van staatsondernemings wat die staat tans waarborg, asook munisipale skuld bymekaar te tel.

Die skuld van staatsondernemings wat die regering tans waarborg, beloop volgens Roodt sowat R700 miljard.

Volgens Schüssler se berekeninge behoort die staatskuld altesaam teen die einde van Maart dus sowat 91% van die BBP te beloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.