Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
De Ruyter: ‘Ek het ’n plan vir Eskom’
André de Ruyter

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het ’n plan hoe om Eskom reg te ruk.

Die groot uitdaging is dat dié plan eers einde Januarie deur die kragverskaffer se direksie goedgekeur moet word.

Dit is volgens ’n onderhoud wat Business Insider en Fin24 met De Ruyter gevoer het.

In dié onderhoud vergelyk De Ruyter Eskom met ’n fiets waarvan die ketting afgekom het. 

“Wat ons moet doen, en die metafoor wat ek saam met die Eskom-span gebruik, is dat ons ’n bietjie soos ’n fietsryer is wat langs die fiets hardloop met die ketting af, en wanneer ons gevra word waarom, sê ons, ons is te besig om die ketting weer op te sit.

“Ons moet dus dinge effens stadiger doen, die ketting weer opsit, sodat ons weer in die saal kan klim en weer kan begin trap,” sê hy.

De Ruyter se plan om dié ketting weer op die fiets te kry is om ’n baie meer gestruktureerde en gedissiplineerde benadering te volg.

Luidens die berig is een van sy voorstelle dat slegs verskaffers van goedere en dienste te gebruik wat vaardig en betroubaar is om die gehalte te lewer wat Eskom vereis.

De Ruyter wou niks spesifieks sê oor hoe beurtkrag Suid-Afrikaners in die toekoms gaan beïnvloed nie.

Hy was net bereid om te sê dat dit ’n minder “ernstige” invloed sal hê.

“Ons is besig met daardie planne. Ons is van plan om einde vandeesmaand ’n plan na ons direksie te neem. Dit is ’n volwaardige plan vir sowel vraagbestuur as die instandhoudingskedule. Dit sluit ook in ons filosofie vir veranderingsinstandhouding.

“Nadat die direksie dit hopelik goedkeur, kan ons dit na die aandeelhouers neem. Ons kan dan die mark inlig oor wat ons verwag moontlike ontwrigting kan wees, soveel as wat ons gaan probeer om dit te vermy.

“Maar as dit nodig is om ons weer in die saal te kry, dan moet ons dit doen,” sê hy.

Afleggings

Op die vraag oor of Eskom sy arbeidsmag gaan verklein, sê De Ruyter daar is geen planne vir gedwonge afleggings nie.

“Die president [Cyril Ramaphosa] was baie duidelik dat daar geen gedwonge afleggings by Eskom sal wees nie, en dat die mandaat baie duidelik is, en ons sal dit natuurlik respekteer,” het hy aan Fin24 gesê.

Hy het egter nie vrywillige skeidingspakkette uitgesluit nie en gesê elke geval sal afsonderlik hanteer word afhangende van die koste.

Hy sê natuurlike personeelafname kan ook bydra dat werknemersgetalle verminder.

Volgens De Ruyter was sy aanvanklike gesprekke met georganiseerde arbeid “konstruktief”.

Diesel

Hoewel ’n kleiner arbeidsmag Eskom baie geld kan bespaar, kan dit ook help as Eskom minder diesel koop.

Jabu Mabuza, voormalige voorsitter van Eskom, het in November erken Eskom het in die jaar tot einde Maart R19 miljard op diesel bestee.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het in Desember op ’n vraag oor hoeveel diesel Eskom gedurende die vlaag beurtkrag tóé gebruik het, gesê hy weet nie hoeveel dit is nie, maar dat dit “baie” was.

De Ruyter sê as Eskom sy netwerk kan stabiliseer, dan gaan dit nie nodig wees om R6 miljard per jaar op diesel te bestee nie.

Dit is ’n “groot geleentheid” om koste te verminder sonder ’n negatiewe maatskaplike uitwerking, sê hy.

– Lees die oorspronklike artikels op Fin24 hier.

Meer oor:  Eskom  |  Andre De Ruyter  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.