
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, is ten gunste van groenkrag. Foto: Elvira Wood
Eskom sal na verwagting oor die volgende ses jaar nóg R121 miljard van die staat ontvang, het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, gesê.
Hy het Vrydagoggend lede van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) toegespreek op ’n ontbyt wat in Kaapstad gehou is.
De Ruyter het gesê hoewel die nutsmaatskappy dié geld nodig het, is dit nie regverdig teenoor die res van die land nie.
“Dit beteken daardie geld kan nie vir ander noodsaaklikhede soos hospitale, paaie en huise gebruik word nie. Ons (Eskom) moet onsself so gou as moontlik van belastingbetalers se geld soog. Ons moet ’n manier kry om Eskom finansieel volhoubaar te maak.”
De Ruyter het daarop gewys dat Eskom se skuld bykans R500 miljard beloop. Die staat waarborg sowat R327 miljard daarvan.
“Dit is doodeenvoudig. As Eskom ’n wanbetaler word, dan word Suid-Afrika ’n wanbetaler.”
De Ruyter het gesê die goeie nuus is dat hy en sy bestuurspan die steun van die regering het om Eskom om te draai.
“Ek word toegelaat om, in konsultasie met die direksie van Eskom, besluite oor die maatskappy te neem.
“Daar word glad nie aan my voorgeskryf aan wie Eskom kontrakte moet toeken, of wie aangestel moet word nie.”
Dit is doodeenvoudig. As Eskom ’n wanbetaler word, dan word Suid-Afrika ’n wanbetaler.
André de Ruyter
De Ruyter het gesê groenkrag is die sleutel tot ’n volhoubare Eskom.
Nie net is dit vinniger en goedkoper om groenkrag te installeer nie, dit kan ook baie werkgeleenthede in Suid-Afrika skep.
Hy het gesê daar moet net oordeelkundig gekyk word waar die land mededingend kan wees.
“Ons kan in sekere gevalle nie met lande soos China meeding nie. Maar daar is ander gebiede waar ons infrastruktuur vir hernubare krag mededingend kan vervaardig.”
De Ruyter het gesê Suid-Afrika het inderwaarheid geen ander keuse as om so gou as moontlik na groenkrag oor te slaan nie.
“Daar is nie tyd om te wag nie.”
Hy verduidelik dat Eskom oor die volgende dekade tussen 10 000 MW en 12 000 MW se krag gaan “aftree” soos wat ou kragstasies gesluit word.
“As jy vandag finansiering en versekering kan kry om ’n steenkoolkragsentrale te bou, gaan dit jou minstens ’n dekade neem om te voltooi. Dit gaan waarskynlik tussen 12 en 15 jaar duur voordat ’n kernkragsentrale gebou kan word.”
Daarteenoor duur dit tussen 18 en 24 maande om ’n grootskaalse sonplaas te bou, terwyl dit sowat 36 maande duur om ’n windplaas te bou of om infrastruktuur vir gas te ontwikkel.
De Ruyter het gesê die kanse om finansiering by banke vir ’n steenkoolkragsentrale te kry, is skraal, gesien die tendens is dat hulle eerder omgewingsvriendelike projekte steun.