Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
De Ruyter oor sy tyd by Eskom: ‘Dinge raak beter’
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

André de Ruyter het goed geweet teen watter vyandigheid of teenstand hy te staan sou kom by Suid-Afrika se kragmonopolie – die staatsbeheerde wrak van ’n Eskom wat deur korrupsie uitgehol is en sukkel om die ligte aan te hou, sy rekeninge te betaal en sy vakbond-oorheersde werkerskorps gelukkig te hou.

“Ek dink nie ek was onder enige illusie dat dit ’n baie uitdagende werk gaan wees nie,” sê De Ruyter in ’n onderhoud met Bloomberg nege maande nadat hy as uitvoerende hoof aangestel is.

Hy is die 13de hoof van Eskom in die afgelope dekade, en een van die eerste dinge wat hy laat doen het was om die raadsaal in Megawatt Park in Johannesburg te laat uitverf. “Dit was vuil en het verwaarloos gelyk. Ek is puntenerig. Ek wil dinge reg doen.”

De Ruyter (52) het heelwat ervaring in die private sektor en is vol vertroue dat sy korporatiewe benadering, soos om ’n meriete-gebaseerde stelsel vir bestuurders en ’n onverdraagsaamheid teenoor diefstal wel vordering toon. Die doel is om die sukkelende steenkoolverbrandende reus te omskep in ’n groenkragonderneming met ’n bestuurbare skuldlas wat Afrika se mees gevorderde ekonomie in stand kan hou.

“De Ruyter het kritici verras danksy sy volhardingsvermoë,” sê Darias Jonker, direkteur van die Eurasia-groep in Londen. “Hy het koers gehou ondanks die frustrasies en dooiepunte wat talle waarnemers gedink het hom teen hierdie tyd al sou noop het om Eskom te verlaat.”

Selfs voordat die Covid-19-inperking Suid-Afrika se resessie vererger het, het De Ruyter opslae gemaak deur belangrike magsbasisse te takel, insluitende die Eskom-direksie. Hy het die nasionale energiereguleerder (Nersa) hof toe gesleep om tariewe te verhoog, dorpe se krag afgesny weens hul uitstaande rekeninge, en stappe gedoen om opgeblase kontrakte te kanselleer. Hy het selfs begin om bestuurders verantwoordbaar te hou.

Ek dink nie ek was onder enige illusie dat dit ’n baie uitdagende werk gaan wees nie.
André de Ruyter

Sy taktiek het nog nie ’n sigbare verandering aan Eskom se afwaartse spiraal gebring nie. Eskom het belastingbetalersgeld nodig om die rente op sy skuld van meer as R488 miljard te betaal, en sal vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar ’n verlies ly.

Goldman Sachs se ontleders het Eskom al Suid-Afrika se enkele grootste risiko genoem.

Intussen is daar kort-kort beurtkrag.

Van een tot drie

Pres. Cyril Ramaphosa se oplossing is om Eskom in drie dele te verdeel sonder om poste te sny. Dit is De Ruyter se taak om dit reg te kry.

“Ons kan nie voortgaan om dinge te doen soos wat ons dit altyd gedoen het nie.”

Die tradisionele roete vir ’n Eskom-hoof is om jou van onder af deur die maatskappy op te werk of om van ’n ander staatsonderneming te skuif. De Ruyter was ’n buiteperd vir die pos. Hy was eers ’n bestuurder by Sasol waar hy hoof was van Sasol se bedrywighede in China en Duitsland. Toe hy oorgesien word as nuwe hoof van Sasol, het De Ruyter aangeskuif na Nampak waar hy die pos as uitvoerende hoof aanvaar het. Ná vyf jaar by Nampak het die regering verras deur hom as Eskom-hoof aan te stel, tot groot woede van die vakbonde wat ’n swart hoof wou hê.

Eskom se probleme weerspieël Suid-Afrika se agteruitgang die afgelope dekade. Ambisieuse planne om nuwe kragopwekking te bou het misluk, wat tot reusagtige oorbesteding en toerusting wat nie behoorlik werk nie, gelei het.

Emissions rise from a tower of the Eskom Holdings
Eskom se Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Getty Images

Sinoniem met korrupsie

Eskom het onder die regering van oudpres. Jacob Zuma sinoniem met korrupsie en staatskaping geword, met die omstrede Gupta-familie asook private firmas soos Deloitte en McKinsey wat betrek is by onreëlmatighede.

Dit help verduidelik waarom De Ruyter so diep grawe. Hy beantwoord persoonlik per e-pos op kliënte se klagtes. “Mense is gefrustreerd.”

Hy was op ’n toer deur die pakstoor van een van die steenkoolkragstasies toe hy drie verdiepings se rakke vol van ’n sekere komponent sien en vra hoeveel van die goed werklik in ’n jaar gebruik word. “Dit blyk toe dat ons hierdie goed gedurig aangekoop het sonder dat ons dit regtig nodig gehad het.”

Onderdele 'verdwyn'

Sy vloot kragstasies breek wel gedurig, en Eskom het nie alles wat nodig is vir die herstelwerk en instandhouding nie. Daar is tot $100 miljoen se onderdele by elk van die meer as 12 kragstasies “maar wanneer jy na kritieke onderdele soek, is dit nie daar nie”.

“Dan begin jy al die klippe om te rol,” verduidelik De Ruyter oor hoe hy ook geleer het die gemiddelde transformator by Eskom is minstens ’n dekade ouer as transformators wat in die private sektor op dieselfde ouderdom al vervang sou gewees het.

In ’n ander geval het hy gevind die getal aankope wat sonder ’n kontrak gedoen is, het met soveel as 90% toegeneem. “As daar geen beheer is nie, is dit maklik om te steel.”

“Gegewe dat sy persoonlike visie vir Eskom waarskynlik in regstreekse konflik is met ’n baie komplekse groep belanghebbers, lyk dit of hy vordering gemaak het,” sê Bronwyn Blood, ’n portefeuljebestuurder by Granate Asset Management in Kaapstad. “Die feit dat hy steeds in die pos is wat sonder twyfel die moeilikste werk in Suid-Afrika is, en dat hy dapper voortveg deur al die uitdagings heen, is baie positief uit ’n beleggersoogpunt.”

Maar toerusting en sagteware veg nie terug soos mense nie. “Eskom-werkers is heeltemal onverbind tot die huidige leierskap,” sê Irvin Jim, hoofsekretaris van die metaalwerkersvakbond Numsa.

Die risiko om nie vakbonde se samewerking te kry nie, is tydens 2018 se loononderhandelings gesien. Toe bonusse gekanselleer is, het die vakbond NUM dit as ’n “oorlogsverklaring” beskryf. Betogers het toegang tot kragstasies versper en vervoerbande is gevandaliseer. Eskom het toe ingegee vir die vakbonde se eise.

Die Hendrina-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Eskom

Vakbonde 

De Ruyter meen hy het ’n goeie verhouding met die vakbonde.

Maar bestuurders van meer as 12 kragstasies is in Augustus na Megawatt Park se ouditorium ontbied waar De Ruyter hulle gekonfronteer het met foto’s van “baie swak instandhoudingspraktyke”.

“Ek het gesê ‘julle moet asseblief verstaan dat sommige van julle nie langer hier gaan wees as dit voortduur nie’.”

Nadat ernstige kragonderbrekings gevolg het, het De Ruyter skorsingsbriewe per hand aan sommige van die bestuurders afgelewer.

Die belanghebbers wat uiteindelik Eskom se lot beheer, gun hom wel ruimte om omdraaiplanne in te stel. Die departement van openbare ondernemings ondersteun sy jongste stappe.

Maar die regering gaan nie onbepaald ’n blanko tjek voorsien nie. Eskom moet verbeter op verskeie gebiede, van koste, omset tot die invordering van munisipale skuld, het Kgathatso Tlhakudi, direkteur-generaal van openbare ondernemings, gesê.

Sunrise Energy se gasaanleg van bo af (links) en regs is Avedia se gasaanleg. Hulle lê weerskante van die Saldanha-Langebaanpad. Foto: sunrise-energy.co.za; iol.co.za

Droom van groenkrag

De Ruyter het ook ’n plan om ’n skoonenergiebedryf in Suid-Afrika te vestig. In Mpumalanga word steenkool vir kilometers ver met vervoerbande na kragstasies vervoer. Sommige Eskom-kragstasies is naby die aardgaspypleiding van Mosambiek af, sodat hulle aangepas kan word om eerder met aardgas as steenkool te werk. De Ruyter het gereelde gesprekke met die Wêreldbank en die Franse en Duitse ontwikkelingsbanke oor hoe so ’n oorgang tot beter leningskoste kan lei.

Maar so ’n voorstel verg groot oortuiging van die arbeidsektor, want hulle vrees dit sal tot werkverliese lei.

Moody’s Investors Service sê groen-effekte, wat gebruik word om omgewingsvolhoubare projekte te finansier, kan vanjaar $200 miljard oorskry.

Ná nege maande is De Ruyter byna by die gemiddelde termyn van ’n Eskom-hoof vir die afgelope dekade.

“Ek vind dit persoonlik baie bevredigend om te sien dinge verbeter, en miskien is daardie verbetering nie van buite sigbaar nie, maar jy kan dit stelselmatig aanvoel. Dis ’n groot olifant – een happie op ’n slag,” sê hy. - Bloomberg

Meer oor:  Eskom  |  Andre De Ruyter  |  Korrupsie  |  Kragstasies  |  Kragopwekking  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.