Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
De Ruyter: Parlement se tyd gemors oor ‘rassisme’

Vergeet van die houtbesem wat R238 000 gekos het of die enkellaagtoiletpapier van R28 per rol.

Die klagte waarvan Solly Tshitangano, Eskom se verkrygingshoof, dissiplinêr aangekla word, is veel, veel erger as dít waaroor tot dusver berig is.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

In ’n beëdigde verklaring deur André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, skryf hy Tshitangano se versuim om noodverkryging goed te keur toe ’n vervoerband by die Majuba-kragstasie in Desember 2019 gebreek het, het Eskom R60 miljoen gekos en potensieel nog R123 miljoen per maand.

En selfs dít is “kleingeld”: Kontrakte met ’n verskaffer van brandstof aan Eskom, Econ Oil and Energy, was altesame R8 miljard werd; ’n ondersoek het getoon Eskom kan R2 miljard daarop bespaar.

Tshitangano het luidens die verklaring versuim om die kontrak te beëindig selfs nadat Eskom se regsadviseurs op onregmatighede en korrupsie gewys het. Econ het buitensporige pryse vir sy produkte en dienste gevra.

Die probleme met die kontrak, en die feit dat Tshitangano nie met ouditeurs wou saamwerk nie, was volgens De Ruyter die rede waarom Eskom nie ’n skoon oudit gekry het vir die 2019-’20-boekjaar nie.

Lang antwoord

De Ruyter se verklaring is gedateer 29 Maart en is 53 bladsye lank, met verskeie kontrakte, e-posse en ander bewysstukke aangeheg. Dis gerig aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), wat waghou oor die staat en staatsondernemings se besteding.

Solly Tshitangano, geskorste verkrygingshoof van Eskom.

Skoor het middel Maart besluit om Tshitangano se bewerings dat De Ruyter rassisties was en al verskeie kere onreëlmatig opgetree het, te ondersoek nadat Tshitangano ’n brief aan die komitee geskryf het. Hy het ook aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en pres. Cyril Ramaphosa geskryf.

Eskom het Donderdag aangekondig dat sy direksie adv. Ishmael Semenya aangestel het om die ondersoek te lei na die bewerings van rassisme en magsmisbruik teen De Ruyter. De Ruyter is egter nie geskors hangende die uitslag van die ondersoek nie.

Tydlyn van klagtes

De Ruyter stippel in sy verklaring die tydlyn uit wat duidelik toon dat Tshitangano die heel eerste keer die skelwoord van rassisme geopper het nadat De Ruyter en Eskom se mensehulpbronafdeling hom amptelik oor sy prestasie toegespreek het en die klagte teen hom geformuleer het. Dit was op 12 Februarie 2020.

Vier dae later, op 16 Februarie 2020, het Tshitangano ’n brief aan prof. Malegapuru Makgoba, Eskom se voorsitter, geskryf “waarin hy, vir die eerste keer, beweer het dat ek my posisie misbruik het”.

“Prof. Makgoba het toe met Tshitangano vergader om die brief te bespreek, en het hom aangeraai om Eskom se grieweprosedure te volg. Tshitangano het geweier om dit te doen.”

Eskom se verkrygingsafdeling het ruimte geskep vir wanbesteding en selfs korrupsie, volgens André de Ruyter, uitvoerende hoof.

Tshitangano het niks verder gedoen nie, tot in Februarie vanjaar, toe hy gevra is om te antwoord op die klagte teen hom.

Tshitangano moes op 17 Februarie vanjaar sy dissiplinêre verhoor bywoon en het nie opgedaag nie. Dis uitgestel tot 24 Februarie, en hy het steeds nie opgedaag nie. Dis eers toe dat hy geskors is hangende die uitkoms van die dissiplinêre proses.

Misbruik parlement

De Ruyter voer aan Tshitangano wil Skoor gebruik om Eskom te oorreed om die dissiplinêre proses teen hom op te skort.

“Die bewerings en energie wat ek moes bestee om dit te behartig, het my vermoë om behoorlik en doeltreffend my pligte uit te voer ernstig ondermyn. Effektiewelik is ’n eenvoudige bedryfsprobleem oor onderprestasie tot parlementêre vlak verhef.

Dié soort vals en lasterlike bewerings regverdig nie die enorme hoeveelheid tyd en hulpbronne wat vermors word om dit op te los nie.
André de Ruyter

“Dié soort vals en lasterlike bewerings regverdig nie die enorme hoeveelheid tyd en hulpbronne wat vermors word om dit op te los nie.

“Dit ondermyn die moraal in Eskom ernstig, terwyl ons ’n kultuur van hoë prestasie probeer skep.”

Hy heg ook e-poskorrespondensie aan wat toon hoe Tshitangano probeer het om die komitee te mislei oor die ware feite om die klagte teen hom.

“Tshitangano se bewering dat sy griewe deur my behartig sou word, dat hy geen ander manier het om sy griewe intern te laat ondersoek nie, en dat prof. Makgoba nie die korrekte prosesse gevolg het nie, is agterbaks, vals en is op die oog af daarop gemik om die komitee te oorreed om sy kosbare tyd toe te wy om sy skynbewerings te ondersoek.”

De Ruyter lys ook al Tshitangano se bewerings van magsmisbruik teen hom en waarom hy dit as ongegrond beskou. Dit sluit in aanstellings en veranderinge in prosesse.

Van 75% tot 8%

De Ruyter wys op enorme misbruike in die verkrygingsprosesse wat waarskynlik op korrupsie dui.

Verkrygings van minder as R5 miljoen kon gedoen word deur ’n verkryging op ’n sogenaamde “vryeteks”-grondslag op die SAP-sagtewarestelsel in te tik.

Dit beteken dit het nie die presiese bewoording van vorige verkrygings gebruik nie en kon dus nie met die eerste oogopslag daarmee vergelyk word nie.

Toe hy by Eskom ondersoek ingestel het, is 75% van verkrygings op ’n “vryeteks”-grondslag gedoen. Dis nou verminder tot 8%.

Van die vergrype wat hy lys, sluit in ’n hidrouliese oliepomp wat in 2016 R294 669 gekos het, wat in 2019 R650 044 gekos het – ’n styging wat nie deur gewone prysstygings verklaar word nie.

De Ruyter verwys ook na swart vullissakke wat vir R51 elk gekoop is en melk vir R21 per liter.

Verandering van verkrygingsprosesse

De Ruyter skryf dat verkryging gedesentraliseer sou word onder Eskom se verskillende afdelings. “Net voordat my instruksie uitgereik is (op 31 Augustus 2020), is dit onder my aandag gebring . . . dat daar ’n skielike en ongewone gretigheid onder die sentrale verkrygingspan was om langtermynkontrakte te plaas.

“Gegrond op kommer wat groepbestuurders aan my geopper het, is vermoed dat die sluit van sulke kontrakte pogings sou stuit deur Eskom se afdelings om besparings deur te voer, die afdelings belas met langtermynkontrakte wat hulle nie onderhandel het nie, en geleenthede skep vir korrupte transaksies om gesluit te word voor die veranderinge in Eskom se delegasie van gesag.”

Dié besluit is ook iets wat Tshitangano aanvoer was ’n misbruik van De Ruyter se mag, maar wat De Ruyter aanvoer is ’n bedryfsaangeleentheid waarvoor hy wel die nodige gesag het. Hy het ook nie mag vir homself toegeëis in die proses nie.

De Ruyter voer aan Tshitangano se bewerings dat hy ondernemings in “wit besit” anders behandel as ondernemings in swart besit, is “heeltemal sonder gronde”. Hy maak ’n lang lys van eise wat Eskom ingestel het, onder meer teen Deloitte en PwC, ABB, Rula Construction, “en ’n eis van R3,8 miljard is teen 12 individue ingestel, insluitend lede en vennote van die Gupta-familie en voormalige Eskom-direkteure en -bestuurders”.

De Ruyter sê die enigste gemene deler in al die eise is bewerings van onregmatige besteding, en dit word gedoen ongeag eienaarskap, ras of geslag.

Meer oor:  Skoor  |  Eskom  |  Solly Tshitangano  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Verkrygings  |  Staatsondernemings  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.