Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
De Ruyter vry: ‘Raskaart het geen rol by Eskom’

Daar is geen bewys dat André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, hom aan rassisme skuldig gemaak het nie.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof. Foto: Deon Raath

Dis die bevinding van adv. Ishmael Semenya, wat deur die Eskom-direksie aangestel is om die bewerings te ondersoek wat Solly Tshitangano, voormalige verkrygingshoof, teen hom gemaak het.

Tshitangano is Dinsdag afgedank ná ’n dissiplinêre verhoor waarin hy skuldig bevind is aan ernstige wangedrag, oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die oortreding van Eskom se interne gedragskode.

Tshitangano het De Ruyter van rassisme beskuldig nadat dissiplinêre stappe teen hom begin is.

Hy het sy aantygings in briewe aan pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal, die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en selfs die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gestuur.

Dit het Eskom se direksie genoop om ’n onafhanklike ondersoek van stapel te stuur.

Semenya het 1 107 bladsye dokumente deurgewerk en verskeie mense ondervra.

Hy het twee dae lank met Tshitangano self gepraat, wat in dié onderhoude probeer ontken het dat hy De Ruyter van rassisme beskuldig het.

Benewens die rassisme-vraagstuk het Semenya bevind daar is geen bewys van Tshitangano se ander bewerings nie. Dit sluit in dat De Ruyter sy magte oorskry het.

“Niks kan meer bisar wees nie,” het Semenya bevind.

Die “wilde” bewerings dat De Ruyter werwingsprosesse systap en ’n kultuur van nepotisme en korrupsie by Eskom duld, is “hoogs onverantwoordelik, veral omdat dit geen gronde het nie,” sê Semenya.

In ’n verklaring  sê Eskom se direksie: “Die gebruik van die raskaart sonder gronde, meriete of inhoud het geen plek by Eskom nie.” 

Solly Tshitangano

Die direksie sê hy merk die kommerwekkende tendens op dat mense wat self van swak prestasie aangekla word, in die openbaar “wilde en grondelose bewerings maak wat Eskom en sy bestuur se reputasie skade berokken”.

“Die direksie is ten diepste spyt oor die vermorsing van tyd, geld en hulpbronne wat belastingbetalers aangegaan het weens sulke onverantwoordelike gedrag, maar verseker belastingbetalers en kliënte dat hy vasbeslote bly om ’n kultuur van hoë prestasie na te streef.”Die direksie herbevestig ook sy steun aan De Ruyter self en aan sy bestuurspan.

Tshitangano se dissiplinêre verhoor het primêr gegaan oor ’n kontrak van R8 miljard met Eton Oil & Energy waarby korrupsie betrokke was.

De Ruyter het onlangs in ’n beëdigde verklaring aan Skoor gesê die parlement is deur Tshitangano mislei.

“Die bewerings en energie wat ek moes bestee om dit te behartig, het my vermoë om behoorlik en doeltreffend my pligte uit te voer ernstig ondermyn. Effektiewelik is ’n eenvoudige bedryfsprobleem oor onderprestasie tot parlementêre vlak verhef.

“Dié soort vals en lasterlike bewerings regverdig nie die enorme hoeveelheid tyd en hulpbronne wat vermors word om dit op te los nie.“Dit ondermyn die moreel in Eskom ernstig, terwyl ons ’n kultuur van hoë prestasie probeer skep.”

De Ruyter het later in ’n onderhoud gesê hy is tevrede en wil nou fokus op die omkeerplan van die nutsmaatskappy.

Lees sy kommentaar hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.