Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dele van JHB kry dalk daagliks beurtkrag
’n Uitsig oor die Johannesburgse middestad.Foto: Getty Images

City Power waarsku dat hy daagliks beurtkrag in sekere dele van Johannesburg sal moet toepas as inwoners nie hul kragverbruik verlaag nie.

Die stad se kragnetwerk is toenemend onder druk weens onwettige verbindings, sê City Power in ’n verklaring.

Die kragverskaffer het gebiede in die stad geïdentifiseer waar kragverbruik skerp toeneem noudat die koue winterseisoen begin het.

Die vraag na meer elektrisiteit in dié gebiede is deels omdat daar so baie onwettige verbindings is, sê City Power. As inwoners hier nie die vraag na krag verlaag nie, sal City Power gedwing word om beurtkrag daar daagliks tussen 16:00 en 22:00 toe te pas op ’n roterende grondslag.

Sewe streke is geïdentifiseer waar beurtkrag moontlik toegepas gaan word. Dit sluit in dele van Commercia in Midrand, Groblerspark in Roodepoort, Crosby naby Brixton, die ooste van Orlando, Klipspruit, Alexandra, Booysens naby Gold Reef City, Ennerdale en die suide van Lenasia.

Die gebiede geoormerk is hoofsaaklik informele nedersettings versprei deur die stad, maar City Power waarsku dat onwettige verbindings nie tot dié nedersettings beperk is nie. Daar is ook ’n toename in onwettige verbindings in voorstede.

beurtkrag

Die stad gaan in die komende weke ’n yslike veldtog van stapel stuur om onwettige kragverbindings te verwyder.

City Power sê wel dat die beplande beurtkrag as die “laaste uitweg” beskou word om die stad se kragnetwerk te beskerm. Die stad gaan ook die vermoëns van sy transformators opskerp tot die hoogste vlak om te help om aan die verwagte hoër vraag na elektrisiteit te voldoen.

Bykomende hulpbronne word ook op ’n gereedheidsgrondslag geplaas om so spoedig as moontlik onbeplande kragonderbrekings te herstel.

In die koue wintermaande styg kragverbruik drasties, sê City Power. Onwettige kragverbindings vererger die druk op die kragnetwerk.

Eskom het self begin waarsku van toenemende druk op die nasionale kragnetwerk soos wat temperature landwyd daal.

Die kragverskaffer vra reeds gereeld Suid-Afrikaners moet onnodige ligte, warmwatersilinders, swembadpompe en nienoodsaaklike toestelle afskakel. Eskom het dié versoek so onlangs soos Woensdagaand uitgereik.

Hy verwag ’n minimum van drie dae se beurtkrag op fase 1 die winter, met die grootste kans saans tussen 17:00 en 20:00 wanneer die vraag na krag op sy hoogste is, het Bheki Nxumalo, hoof van opwekking, onlangs gesê.

Die vraag na krag sal op 1 Junie aansienlik toeneem omdat die meeste ondernemings weer sal mag begin sake doen op vlak 3 van die staat van inperking.

Suid-Afrikaners het laas op 15 Maart, meer as twee maande gelede, beurtkrag gehad.

Meer oor:  City Power  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening  |  Elektrisiteit  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.