Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Studie oor petrolprys nog nie klaar

Die departement van minerale bronne en energie is nog besig met die studie om te kyk hoe die formule vir brandstofpryse aangepas kan word.

Die Sapref-raffinadery in Durban. Foto: Argief

Sodra dit afgehandel is en daar is iets om aan te kondig, sal die minister dit doen, het Tsediso Maqubela, hoofdirekteur vir brandstof by die departement, Dinsdag in die parlement gesê.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, sê die brandstofprys is ’n bewegende teiken.

Internasionale oliepryse, die internasionale winsmarges op geraffineerde brandstofprodukte en die rand-dollar-wisselkoers is die drie groot faktore wat Suid-Afrika se brandstofpryse raak.

Geopolitiek, soos wanneer Amerika en China oor handel koppe stamp, raak ook oliepryse en dus plaaslike brandstofpryse, het Mantashe Dinsdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor minerale en energie gesê.

Sonder mededingende raffinaderye sou Suid-Afrika al sy brandstofprodukte moes invoer. Die bedryf hou industrialisering in die land aan die gang.
Tsediso Maqubela

Suid-Afrika moet 80% van sy brandstof invoer in die vorm van ruolie of die eindproduk. Net 20% word via Sasol se steenkool-tot-brandstofproses plaaslik verkry.

Die Italiaanse oliemaatskappy Eni doen eksplorasiewerk aan die kus van KwaZulu-Natal met die hoop om olie of gas te ontdek.

’n Goed gekoördineerde Sentrale Energiefonds (SEF) is ’n belangrike agent in dié omgewing, en die departement werk hard om die instellings in die SEF te versterk en permanente uitvoerende hoofde aan te stel waar daar mense in waarnemende poste is.

Maqubela het verduidelik presies hoe die Suid-Afrikaanse brandstofpryse bereken word. Die oorsprong van die rede vir ’n gereguleerde basiese brandstofprys was om ’n mededingende raffinaderybedryf in die land te kan volhou. “Sonder mededingende raffinaderye sou Suid-Afrika al sy brandstofprodukte moes invoer. Die bedryf hou industrialisering in die land aan die gang. Daarsonder twyfel ek of ons ooit ’n raffinaderybedryf sou gehad het.”

Maqubela sê baie lande het brandstoftekorte want hulle het nie ’n voorspelbare prysraamwerk nie. Die departement speel dikwels gasheer vir ander lande om vir hulle te wys hoe Suid-Afrika sy brandstofpryse reguleer.

Robert Maake, spesialis in brandstofpryse by die departement, sê die basiese brandstofprys is in ander woorde ’n invoerpariteitsprys.

Daar is hoofsaaklik drie maniere waarop brandstofpryse bepaal word, sê hy.

  • 1. Ad hoc-pryse. Dit is gewoonlik in lande wat hul eie olie produseer en enige prys vir hul brandstof kan vra wat hulle wil. Daar is egter geen deursigtigheid nie en is onreëlmatig. Dit skep probleme omdat pryse soms vir maande gesubsidieer word met die hoop dat die werklike pryse weer een of ander tyd sal daal.
  • 2. ’n Formule-gebaseerde prys soos in Suid-Afrika waar die formule duidelik is en waar die Automobiel-Assosiasie selfs voor die departement kan voorspel wat die volgende brandstofprysverandering sal wees. Dit skep stabiliteit en is deursigtig.
  • 3. ’n Geliberaliseerde markprys waar die mark die prys vasstel. Dit is in lande waar daar verskeie mededingers is wat goed met mekaar kan meeding. Maake meen in Suid-Afrika kan die rolspelers nie goed met mekaar meeding nie want die ses groot oliemaatskappye beheer die mark en die kleiner toetreders kan nie met hulle meeding nie.

Maake verduidelik Suid-Afrika gebruik ’n formule wat op invoerpariteit gegrond is. As Suid-Afrika die mark sou liberaliseer maar twee uit die ses groot raffinaderye moet sluit, kan dit beteken veel meer brandstof sal ten duurste ingevoer moet word. Die invoerpariteit-formule help egter om pryse te stabiliseer.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Brandstof  |  Invoer  |  Wisselkoers  |  Olieprys  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.