Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Deurbraak met krag vir Harrismith

Die hooggeregshof in Pretoria het die afgelope week ’n finale hofbevel uitgereik wat Eskom in staat stel om as agent namens die sukkelende Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in Harrismith en omstreke krag te versprei, rekenings te lewer en betalings in te vorder.

Kraglyne in Melkbosstrand herlei elektrisiteit van die Koeberg-kernkragstasie na die kragnetwerk. Foto: Getty Images

Die vyfjaar-ooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit is die eerste volledige vennootskapsooreenkoms van sy soort waar Eskom die munisipale inkomste in sy eie bankrekening sal betaal. Eskom hoop om ander munisipaliteite wat hom miljarde rande skuld, op soortgelyke wyse te help om weer op hul voete te kom en hul inkomste uit kragverkope te verbeter.

Rapport het verneem die gebruik van Eskom, pleks van die raad, se bankrekening was aanvanklik een van die knelpunte, aangesien dit strydig is met munisipale wetgewing. Die nasionale tesourie het die ooreenkoms met insluiting van dié bepaling egter op die ou end in die hof gesteun.

Groot ondernemings in Harrismith soos Nestlé en Monn Carpets betaal hul kragrekenings reeds geruime tyd ingevolge ’n vroeëre hofbevel direk aan Eskom.

Ingevolge die jongste hofbevel het die twee partye nou twee weke om die ooreenkoms te finaliseer, waarna die energiereguleerder, Nersa, dit moet goedkeur. As hulle nie kan ooreenkom nie, moet Nersa die geskil besleg, of hulle kan terugkeer hof toe.

Morné Mostert, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê inwoners is aan die ontvangkant van die reëlings tussen Eskom en die munisipaliteit en moet geken word in die ooreenkoms. Hy sê dit is duidelik dat Maluti, soos baie ander munisipaliteite, nie die vlak van dienslewering kan handhaaf wat in die Grondwet verwag word nie. Inwoners en ander belanghebbendes soek na alternatiewe modelle, maar Eskom het ook nie ’n goeie prestasiegeskiedenis nie.

Mostert sê dit sou beter wees om ook ander diensverskaffers in die private sektor, wat reeds die elektrisiteitsdiens in ander munisipaliteite suksesvol bestuur, ’n kans te gee om as alternatiewe diensverskaffer in Maluti oorweeg te word.

Nicholas Nouwens, ’n direkteur van Monn Carpets wat die hofaansoek gesteun het, het die finale bevel verwelkom. Hy sê onder al die munisipaliteite wat in duie gestort het, is Maluti-a-Phofung beslis een van die swakstes. “Ons probeer al meer as drie jaar om ’n oplossing te vind en het regs- en politieke prosesse gelyktydig probeer. Uiteindelik is ons as ondernemings geregtig op behoorlike diens van die munisipaliteit. ’n Politieke oplossing was moeilik om te bewerkstellig en die hofbevel help ons nou.”

Nouwens meen ander sukkelende munisipaliteite kan daarby baat vind om soortgelyke ooreenkomste met Eskom aan te gaan.

Meer oor:  Eskom  |  Maluti-A-Phofung  |  Harrismith  |  Kragkrisis  |  Wanbetaling  |  Munisipaliteite  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.