Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dié 10 dorpe skuld Eskom die meeste geld

Die tien munisipaliteite wat die diepste in die skuld is by Eskom, gaan voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gedaag word om te verduidelik waarom hulle nie hul kragrekeninge betaal nie.

Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge. Foto: Jaco Marais

Themba Godi, voorsitter van Skoor, sê die komitee is nie tevrede met die pogings van Eskom, die nasionale tesourie, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings (Salga) om die krisis op te los nie.

Daarom gaan Skoor met die interministeriële taakspan vergader om ’n oplossing te soek.

Eskom het Woensdag gewaarsku die munisipaliteite skuld hom nou al meer as R13,886 miljard, teenoor R9,4 miljard in Maart verlede jaar.

Die skuld van die Johannesburgse woonbuurt Soweto, wat rente ingesluit teen einde Maart R15,426 miljard beloop het, is boonop hiervan uitgesluit.

Eskom se pogings om voorafbetaalde kragmeters in Soweto te installeer, is met betogings en vandalisme begroet, het Eskom in sy voorlegging aan Skoor gesê.

Godi sê dit blyk sommige munisipaliteite is in staat om te betaal, maar is traag om dit te doen.

Swak politieke leierskap en swak verantwoordbaarheid, asook die afwesigheid van bekwame finansiële hoofde by munisipaliteite is die redes vir die skuldlas, het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, aan Skoor gesê.

Mogajane sê munisipaliteite kla op hul beurt by die tesourie hulle kry te min geld uit die staatskas. Hy het verduidelik arm landelike munisipaliteite kry juis meer geld van die staatskas as stedelike metro’s, wat beter in staat is om inkomste te genereer.

Salga se verteenwoordigers kap terug en sê die tesourie het in 2015 ’n artikel in die Grondwet gebruik om die terughouding van billike toedelings aan sekere skuldbelaaide munisipaliteite te regverdig. Volgens Salga het munisipaliteite onvolhoubare terugbetalingsooreenkomste met Eskom gesluit net sodat hul krag nie afgesny moet word nie.

Salga kla Eskom behoort Soweto en die res van die munisipaliteite dieselfde te behandel. Salga meen hofbevele wat kragkopers binne munisipaliteite dwing om Eskom regstreeks te betaal, sal net die situasie vererger.

Die 10 grootste skuldenaars

  • Maluti A Phofung (Harrismith, Kestell en Phuthaditjhaba in die Vrystaat): R2,8 miljard
  • Matjhabeng (Welkom, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman in die Vrystaat): R1,8 miljard
  • eMalahleni (Witbank en Kriel in Mpumalanga): R1,6 miljard
  • Ngwathe (Edenville, Heilbron, Koppies, Parys en Vredefort in die Vrystaat): R936 miljoen
  • Emfuleni (Vanderbijlpark, Vereeniging, Evaton en Sebokeng in Gauteng): R606 miljoen
  • Govan Mbeki (Secunda en Bethal in Mpumalanga): R517 miljoen
  • Lekwa (Standerton in Mpumalanga): R491 miljoen
  • Thaba Chweu (Pelgrimsrus, Lydenburg, Graskop en Sabie in Mpumalanga): R431 miljoen
  • Ditsobotla (Biesiesvlei, Coligny en Lichtenburg in Noordwes): R293 miljoen
  • Naledi (Vryburg, Stella en Coldridge in Noordwes): R280 miljoen
Meer oor:  Eskom  |  Themba Godi  |  Dondo Mogajane  |  Soweto  |  Harrismith  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Skoor  |  Elektrisiteit  |  Kragtariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.