Eskom se direksie het adv. Ishmael Semenya aangestel om die ondersoek te lei na bewerings van rassisme en magsmisbruik teen André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

Adv. Ishmael Semenya het ingestem om ’n onafhanklike ondersoek te lei na bewerings van rassisme en magsmisbruik teen André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.
Hy het nie ’n spesifieke sperdatum gekry wanneer sy ondersoek klaar moet wees nie.
Semenya is ’n vooraanstaande senior advokaat wat al opgetree het as waarnemende regter in die hooggeregshof asook die arbeidshof. Hy was assistent-kommissaris van die ondersoek in 2001 na die stormloop-voorval by Ellispark waarin 43 mense by ’n sokkerwedstryd dood is.
Die bewerings teen De Ruyter kom van Solly Tshitangano, geskorste verkrygingshoof van Eskom.
De Ruyter het Tshitangano in Februarie geskors weens swak prestasie om spaarteikens te haal.
Tshitangano het op sy beurt verskeie briewe aan onder andere pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, asook die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge geskryf waarin hy bewerings teen De Ruyter maak wat insluit rassisme en magsmisbruik.
De Ruyter ontken die bewerings. Hy is ook nie geskors hangende die ondersoek nie.
Die Eskom-direksie het in Maart besluit om ’n onafhanklike ondersoek in te stel. Donderdag het die direksie Semenya se aanstelling bekend gemaak.
Hy kry opdrag om die onafhanklike ondersoek so gou as wat redelik moontlik is af te handel en geskrewe bevindings en aanbevelings te maak.
Semenya moet ook aan die direksie aanbeveel in gevalle waar teen enige spesifieke individue opgetree moet word as hy bevind het dat hulle verkeerd opgetree het.
Volgens die direksie is Semenya vry om enige Eskom-dokumente te versoek en te ontvang en om enige relevante getuies te roep.
Semenya was in November verlede jaar in die nuus toe hy uit protes uit die Johannesburgse Vereniging van Advokate (JSA) bedank het omdat die JSA nie meer nie-lede wil toelaat om vanuit die Pitje-kamers in Pritchardstraat reg langs die Johannesburgse hooggeregshof te praktiseer nie.
Die besluit spruit glo uit wat Semenya as ’n uitgediende reël beskou dat die JSA die hoofhuurder van die gebou is en dat slegs JSA-lede dus daar kantore mag hê, het City Press berig.