Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dié is SA se gunsteling-vulstasie

Suid-Afrikaners is baie lojaal teenoor hul gunsteling-vulstasies, maar watter een kraai koning?

Suid-Afrika se gunsteling-vulstasie is Engen. Foto: iStock

Die Suid-Afrikaanse Verbruikerstevredenheidsindeks (SA-csi) deur die konsultantfirma Consulta het ’n peiling gedoen onder Suid-Afrikaners om hul tevredenheid met die groot ses vulstasie-handelsname in die land te peil.

Heel boaan die ranglys is Engen, maar ook net-net.

Die mededinging tussen die bekendste ses was baie groot met twee handelsname wat onder die gemiddeld presteer het.

Total het ’n indekspunt van 78 gekry en die agteros, Caltex, se punt was 77,2 – albei onder die gemiddeld van 79,6 punte.

Kort op Engen (80,8) se hakke was Shell (80,3). BP en Sasol was gelykop in die derde plek met ook ’n goeie punt van 79,2 elk.

Volgens Consulta is Suid-Afrikaanse verbruikers baie meer gesteld oor hul ervaring by ’n vulstasie as byvoorbeeld in die VSA.

Vulstasies in die VSA se gemiddelde punt in dieselfde peiling was slegs 74, maar dit is grotendeels omdat die ervaring by ’n vulstasie in Amerika soveel anders is, meen Consulta.

In Suid-Afrika bedien petroljoggies die klante, wat nie die geval is in die VSA nie, en dit is juis waarom Suid-Afrikaanse verbruikers baie meer gesteld oor die diens by ’n vulstasie is.

Een van die vernaamste klagtes wat Suid-Afrikaanse verbruikers gehad het, was dat hulle beter diens en ’n beter gesindheid van die petroljoggies verwag.

Maar op gemiddeld oortref die vulstasies steeds die verwagtinge.

Die algehele gehalte van dienslewering by elk van die grootste ses handelsname asook die geriewe by Suid-Afrika se vulstasies is baie beter as wat mense verwag.

Engen loop egter steeds voor en oortref die verwagtinge verreweg die meeste.

Wat lojaliteit betref, is Suid-Afrikaners baie meer lojaal teenoor hul gekose vulstasie as wat hulle teenoor enige ander ondernemings in ander bedrywe is, blyk dit.

Consulta het bevind dat 81,3% van die verbruikers hier lojaal is teenoor net een vulstasiehandelsnaam, wat hoër as “die meeste ander bedrywe in die peiling is”.

Ineke Prinsloo, hoof van verbruikersinsig by Consulta, verduidelik dat dit nie gaan oor die brandstof by die vulstasies nie – verbruikers verwag dieselfde gehalte brandstof van elk van die groot handelaars. Vir Suid-Afrikaners gaan dit oor veiligheid, diens, die netheid van die vulstasie, die geriewe wat daar beskikbaar is en of lojaliteitsprogramme ter sprake is.

Consulta kon nie vasstel presies hoe groot die impak is van lojaliteitsprogramme soos Discovery Insure se Discovery Miles by BP en Shell, en eBucks van FNB by Engen nie, maar noem wel dat hierdie soort vindingryke programme ’n baie groot rol speel in Suid-Afrikaners se keuse waar om te gaan volmaak.

En sodra daardie besluit geneem is, is Suid-Afrikaners baie geneig om nie weer van plan te verander nie.

vulstasie

Meer oor:  Bp  |  Shell  |  Caltex  |  Total  |  Engen  |  Consulta  |  Sa-Csi  |  Vulstasie  |  Peiling  |  Verbruikers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.